Prys die HERE!
Dank die HERE,
want Hy is goed!
Sy trou ken geen einde nie.
Wie kan die magtige dade
van die HERE beskryf,
of sy lof ten volle bekendmaak?
Gelukkig is hy
wat geregtigheid laat geskied
en wat altyd doen
wat reg is.
Dink aan my, HERE,
wanneer U aan u volk
guns bewys;
kom my met u redding
tot hulp
sodat ek deel kan hê
aan die voorspoed
van u uitverkorenes,
my verheug in die vreugde
van u nasie,
en U loof saam met u eie volk.
Ons en ons voorouers
het gesondig.
Ons het oortree en is skuldig.
In Egipte het ons voorouers
die HERE se wonders
gering geag,
en sy baie dade
van goedheid vergeet.
By die Rietsee het hulle
teen Hom in opstand gekom.
Tog het Hy hulle gered
ter wille van
die eer van sy Naam,
om sy mag
bekend te maak.
Op sy bevel
het die Rietsee opgedroog
sodat Israel op die seebodem
kon trek.
Dit was so droog
soos ’n woestyn.
Uit die vyand se mag
het Hy hulle gered
en hulle uit hulle teenstanders
se mag verlos.
Water het toe hulle vyande
bedek.
Nie een van hulle
het dit oorleef nie.
Toe eers het Israel
sy beloftes geglo
en het hulle sy lof besing.
Tog het hulle
gou sy dade vergeet
en nie op sy leiding gewag nie.
In die woestyn
het hulle begeertes opgevlam.
In die wildernis
het hulle God se geduld
beproef.
Hy het gegee
wat hulle gevra het,
maar hulle ook getref
met ’n siekte.
In die kamp
was hulle jaloers op Moses,
en ook Aäron,
wat aan die HERE gewy was.
Die aarde het oopgegaan,
Datan ingesluk,
en Abiram en sy bende begrawe.
Onder die bende
het vuur gewoed,
vlamme het die bose mense verteer.
By Horeb
het hulle ’n kalf gemaak,
en ’n beeld van metaal aanbid.
Hulle roemryke God
het hulle verruil
vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
Hulle het God vergeet,
hulle redder
wat in Egipte
groot dinge gedoen het:
wonderlike dinge
in die land Egipte,
ontsagwekkende dade
by die Rietsee.
Hy het gesê
Hy sou hulle vernietig,
maar Moses, sy uitverkorene,
het vir die volk
in die bres getree
en gepleit
dat God hulle nie
in sy toorn vernietig nie.
Maar die volk
het die vrugbare land verwerp,
en nie sy beloftes geglo nie.
Hulle het in hulle tente gekla
en nie na die HERE
geluister nie.
Daarom het Hy ’n eed afgelê
dat Hy hulle in die woestyn
sal laat omkom,
dat hulle nakomelinge
onder die nasies sou sterf,
en oor die aarde
verstrooi sou word.
Maar hulle het Baäl-Peor
vereer
en geëet van die offers
wat aan dooie afgode gewy is.
Met hulle dade
het hulle Hom getart
sodat ’n plaag hulle getref het.
Maar Pinehas
het tussenbeide getree,
en so is die plaag gestuit.
Hy is beskou
as ’n regverdige man,
geslag na geslag, vir altyd.
By die waters van Meriba
het hulle die HERE
kwaad gemaak,
en so het hulle vir Moses
ernstige probleme besorg.
Hulle het hom opstandig gemaak
sodat hy onbesonne dinge
gesê het.
Israel
het nie die nasies uitgeroei
soos die HERE
hulle beveel het nie
en het eerder
met die nasies vermeng
en hulle bose gewoontes
aangeleer.
Hulle het die nasies se afgode
vereer,
en dit het vir hulle
’n strik geword.
Hulle het hulle seuns
en dogters
aan demone geoffer.
Hulle het onskuldige bloed
vergiet,
bloed van hulle seuns en dogters
wat hulle geoffer het
aan die afgodsbeelde
van Kanaän,
en so die land met bloed bevlek.
Hierdie dade
het hulle onrein gemaak,
net soos iemand
wat egbreuk pleeg.
Die HERE se toorn
het teen sy volk ontbrand,
en Hy het sy eie volk verafsku.
Hy het hulle oorgegee
aan die nasies;
hulle haters
het oor hulle geheers.
Hulle vyande
het hulle verdruk
en aan hulle mag onderwerp.
Baie kere
het Hy sy volk verlos,
maar hulle het opstandig gebly
en verder in hulle sondes
weggesink.
Tog het Hy
hulle ellende raakgesien,
en geluister na hulle hulpgeroep.
Hy het gedink
aan sy verbond met hulle,
en Hy was genadig
op grond van
sy onfeilbare liefde.
Hy het bewerk
dat hulle veroweraars
hulle met medelye behandel het.
HERE ons God, red ons!
Versamel ons weer
uit die nasies
sodat ons u heilige Naam
kan prys,
in U bly kan wees,
en U kan loof.
Geseënd is die HERE,
God van Israel,
van ewigheid tot ewigheid!
Laat die hele volk sê: “Amen!”
Prys die HERE!