Prys die Here! Hy is goed.
Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd!
Wie op aarde het ooit genoeg woorde om te sê hoe groot en sterk die Here is?
Wie kan sy Naam genoeg loof?
God hou baie van elkeen wat doen wat reg is,
wat elke kans aangryp om sy wil te doen. Hy laat dit goed gaan met sulke mense.
Here, onthou my tog wanneer U vol vreugde is oor u kinders.
Sluit my in wanneer U hulle help,
sodat ek kan sien hoe almal wat U uitgekies het, oorloop van geluk.
Ek wil bly wees saam met al u kinders.
Ek wil feesvier saam met elkeen wat aan U behoort.
Ons het baie verkeerde dinge gedoen, nes ons voorgeslagte.
Ons het nie op die regte pad gestap nie.
Ons het U elke keer in die steek gelaat.
Daar in Egipte het ons voorouers hulle nie gesteur aan die groot dinge
wat U gedoen het nie.
Hulle het gou-gou vergeet hoe vol liefde en goedheid U is.
Daarom was hulle so hardkoppig daar by die Rietsee.
Maar die Here het hulle gered, om sy reputasie te beskerm.
Hy wou vir hulle wys hoe groot Hy is.
Hy het met die Rietsee gepraat, en in ’n oogwink was dit kurkdroog!
Hy het hulle dwarsdeur die see laat stap asof dit ’n droë woestyn is.
Hy het hulle gered uit die hand van hulle haters.
Hulle is bevry uit die greep van die mense wat hulle laat swaarkry het.
Die waters van die see het oor hulle vyande gespoel. Nie een het bly leef nie.
Toe het die volk geglo dat die Here doen wat Hy sê.
Hulle het Hom geloof en geprys!
Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het.
Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie.
Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink.
Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee.
Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,
maar Hy het hulle geestelik laat uithonger.
Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het.
Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk.
Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee.
’n Vuur het onder hulle gebrand.
Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie.
By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak,
hulle eie handewerk aanbid.
Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld,
vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet.
Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het.
Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het,
sy magtige dade in die land van Gam
en sy reusewonderwerk by die Rietsee.
God se geduld met sy volk was op.
Hy wou Israel vernietig,
maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie.
Hy het God se woede laat bedaar
en gekeer dat die volk weggevee word.
Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip;
hulle het die Here nie op sy woord gevat nie.
Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla.
Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat.
Toe het God besluit: Genoeg is genoeg!
Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie.
Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word,
hulle sou tussen ongelowiges gaan bly.
Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig,
hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is.
Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak;
daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het.
Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf.
Toe het die siekte opgehou.
Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou.
Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak,
selfs Moses het gely onder hulle sonde.
Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was,
het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie.
Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei
soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie,
maar links en regs met ongelowiges begin trou.
Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef.
Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid
en vasgevang geraak in afgodery.
Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels.
Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak,
hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer.
Die hele land is met onskuldige bloed besoedel.
Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg.
Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop.
Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk.
Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie.
Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop,
hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers.
Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly.
Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal,
maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie,
hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink.
Maar God het gesien hoe swaar hulle kry,
Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help.
Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het.
Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek.
Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het.
Ag, Here ons God, kom help ons tog!
Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof
en bly kan wees oor al u goedheid!
Die Here, die God van Israel, moet geloof word,
nou en vir altyd.
Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar!
Prys die Here!”