Spreuke 22:6-24

Spreuke 22:6-24 ABA

Wanneer jy vir 'n jongmens leer hoe hy moet lewe, dan hou hy aan om so te lewe, ook wanneer hy oud geword het. Ryk mense regeer oor arm mense, en iemand wat geld geleen het, word die slaaf van die persoon by wie hy die geld geleen het. Dit sal sleg gaan met iemand wat slegte dinge doen aan ander mense, hy sal straf kry omdat hy dink hy kan doen wat hy wil. Die Here sal die persoon seën wat goed is vir ander mense en wat vir arm mense van sy kos gee. Wanneer jy iemand wegjaag wat altyd wil spot, dan sal die mense ophou twis, en dan kan hy nie meer mense beskuldig en beledig nie. Wanneer iemand eerlik lewe en vriendelik is, dan is die koning sy vriend. Mense kan aanhou leer hoe om te lewe omdat die Here regeer. Hy laat die dinge wat verraaiers sê, nie gebeur nie. 'n Lui mens sê: “Daar is 'n leeu daar buite. Hy sal my vang as ek uitgaan.” Wanneer 'n slegte vrou jou uitnooi, dan is dit soos wanneer jy by 'n diep gat staan. As die Here jou vervloek, dan sal jy in die gat val. 'n Jongmens kan maklik 'n dwaas word, maar 'n pak slae sal help dat hy nie 'n dwaas word nie. Iemand wat arm mense verdruk, wil homself ryk maak, maar iemand wat presente gee vir ryk mense, word self arm. Jy moet goed luister na wat die wyse mense sê, jy moet hard probeer om te leer, want dit is lekker om dinge te weet en om dit weer te kan vertel. Ek leer vir jou vandag, vir jóú, sodat jy kan weet dat die Here doen wat Hy belowe het. Ek skryf hierdie belangrike dinge vir jou sodat jy kan weet wat om te doen en sodat jy kan leer. Jy moet weet wat die waarheid is en wat jy kan glo, sodat jy vir die persoon wat jou stuur, kan sê wat regtig gebeur het. Jy moenie 'n arm mens se goed vat omdat hy arm is nie, jy moenie iemand wat homself nie kan beskerm nie, verkeerd oordeel nie, want die Here sal self die Regter wees vir hulle, en Hy sal die persoon laat sterf wat vir húlle wil laat sterf. Jy moenie vriende wees met iemand wat gou kwaad word nie, jy moenie saamgaan met so 'n mens nie