Spreuke 22:6-24

Spreuke 22:6-24 AFR20

Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie. 'n Ryke heers oor armes, en wie leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen. Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. Wie ruimhartig is, sal geseën word, want hy gee van sy brood aan die hulpelose. Dryf 'n spotter weg, dan is stryd by die deur uit, en eise en skandalige optrede hou op. Wie 'n rein hart liefhet, wie innemend praat, sal 'n koning as sy vriend hê. Die oë van die HERE bewaak kennis, en die sake van 'n bedrieër werp Hy omver. Die luiaard sê: “Daar is 'n leeu buite! Binne-in die dorpspleine sal ek doodgemaak word!” Die mond van vreemde vroue is 'n diep vangkuil; wie deur die HERE verdoem is, sal daarin val. Sotheid wat vas is aan die hart van 'n jong seun – 'n lat wat straf, neem dit ver van hom weg. Wie 'n arm mens uitbuit om vir homself meer te kry, en aan 'n ryk mens geskenke gee – dit lei net tot gebrek. Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis! Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe. Met die oog daarop dat jou vertroue op die HERE sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou. Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie? Moenie 'n arme beroof omdat hy arm is nie, en moenie die magtelose vertrap in die poort nie, want die HERE sal hulle regstryd voer en van hulle plunderaars die lewe plunder. Moenie vriende maak met 'n humeurige mens nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie