SPREUKE 22:6-24

SPREUKE 22:6-24 AFR83

Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen. 'n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes; daar sal 'n end kom aan sy hardvogtige heerskappy. Wie mededeelsaam is, word geseën, want hy gee van sy kos vir arm mense. As jy 'n ligsinnige mens wegjaag, hou die rusies op en kom die getwis en beledigings tot 'n end. Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die koning tot vriend. Die Here sorg dat die regte insig behoue bly; Hy sorg dat die woorde van 'n onbetroubare mens geen uitwerking het nie. Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!” Die uitnodiging uit die mond van 'n slegte vrou is 'n diep afgrond; jy val daarin as die Here jou vervloek het. Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens, maar 'n pak slae haal dit uit hom uit. Wie arm mense uitbuit, verryk homself; wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm. Luister goed, luister wat die wyse mense sê; probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet, want dit is lekker as jy dit ingeneem het en enige tyd kan weergee. Ek onderrig juis vir jóú vandag sodat jy op die Here kan vertrou. Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer om jou leiding te gee en die nodige kennis, sodat jy die waarheid sal herken, die woorde waarop jy kan vertrou, en 'n betroubare verslag kan gee as iemand jou stuur. Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie. Die Here sal hulle saak behartig en dié wat vir hulle beroof, van die lewe beroof. Moenie maats maak met 'n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie