Lukas 12:41-59

Lukas 12:41-59 ABA

Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?” Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi, en Ek wens die vuur het al klaar begin brand. God sal My baie swaar laat kry, en Ek sal bekommerd en bang bly totdat dit gebeur het. Dink julle Ek het gekom om vrede te bring op die aarde? Nee, Ek sê vir julle: Ek het gekom, en nou twis mense met mekaar. Van nou af sal daar vyf mense in een huis wees wat twis, drie mense teen twee, en twee mense teen drie. 'n Pa sal twis met sy seun, en 'n seun sal twis met sy pa. 'n Ma sal twis met haar dogter, en 'n dogter sal twis met haar ma. 'n Skoonma sal twis met haar skoondogter, en 'n skoondogter sal twis met haar skoonma.” Toe sê Jesus ook vir die mense: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien, dan sê julle dadelik: ‘Dit sal reën.’ En julle is reg, dit gebeur. En wanneer julle sien die suidewind waai, dan sê julle: ‘Dit sal vandag baie warm wees.’ En dit gebeur ook so. Julle skynheiliges, julle verstaan goed wat in die natuur gebeur, maar julle verstaan nie die dinge wat nou gebeur nie. Julle weet goed wat die regte ding is om te doen. Hoekom doen julle dit nie? Wanneer iemand jou hof toe vat, en julle loop hof toe, dan moet jy alles doen wat jy kan om vrede te maak met die een wat jou hof toe vat. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou vat tot by die regter, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 12:41-59

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid