LUKAS 12:41-59

LUKAS 12:41-59 NLV

Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?” En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank – wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie. “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te bring en Ek wens dat my taak al afgehandel was! Daar lê ’n vreeslike doop vir My voor, en Ek is onder ’n swaar las totdat dit volvoer is. Dink julle Ek het gekom om vrede op aarde te bring? Nee, Ek het gekom om stryd en verdeeldheid te bring! Van nou af sal gesinne oor My verdeeld wees, drie teen twee, en twee teen drie. Daar sal verdeeldheid wees tussen pa en seun, en seun en pa; tussen ma en dogter, en dogter en ma; tussen skoonma en skoondogter, en skoondogter en skoonma.” Toe het Jesus na die skare gedraai en gesê: “Wanneer julle wolke sien saampak in die weste, sê julle: ‘Hier kom ’n reënbui.’ En julle is reg. Wanneer die suidewind waai, sê julle: ‘Vandag sal skroeiwarm wees.’ En dit is so. Julle skynheiliges! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te vertolk, maar julle kan nie die huidige tyd vertolk nie. “Hoekom kan julle nie self besluit wat is reg nie? As julle saam met julle teenparty op pad hof toe is, doen moeite om ’n ooreenkoms te bereik voordat julle saak voor die regter kom, of julle kan gevonnis word en aan die polisie oorhandig word en in die tronk gestop word. En as dit gebeur, sal julle nie vrykom voordat julle die laaste sent betaal het nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 12:41-59

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid