Lukas 12:41-59

Lukas 12:41-59 AFR20

Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” “Ek het gekom om 'n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was! Ek het 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. “Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Toe sê Hy vir die skare: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik, ‘Daar kom reën!’ en dit gebeur so. En wanneer die suidewind waai, sê julle, ‘Dit gaan baie warm word!’ en dit gebeur ook. Skynheiliges, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie beslissende tyd te beoordeel nie?” “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie? As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 12:41-59

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid