LUKAS 12:41-59

LUKAS 12:41-59 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” “Ek het gekom om 'n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was! Ek het 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. “Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Toe sê Hy vir die skare: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik, ‘Daar kom reën!’ en dit gebeur so. En wanneer die suidewind waai, sê julle, ‘Dit gaan baie warm word!’ en dit gebeur ook. Skynheiliges, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie beslissende tyd te beoordeel nie?” “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie? As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.”

LUKAS 12:41-59 Die Boodskap (DB)

Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?” Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.” “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie! Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie. “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei. Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees. ’n Ma en haar seun sal byvoorbeeld in My glo, terwyl die pa en sy dogters weier om My te dien. Pa’s en seuns sal van nou af mekaar haat oor My. Ma’s en hulle dogters sal haaks wees om dieselfde rede; so ook ganse families. Ek gaan nog maak dat baie mense niks met mekaar te doen wil hê nie.” Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook. En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook. “Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie. Besef julle nie hoe laat dit al op God se groot horlosie is nie? “Julle weet ook nie hoe om reg teenoor ander mense op te tree nie. Kyk net hoe dikwels beland julle in die hof. Dit is omdat julle nie bereid is om die saak voor die tyd te gaan uitpraat met mense wat julle hof toe wil vat nie. Moenie so hardkoppig wees nie. Gaan maak dinge tussen julle en ander mense reg voordat julle in die hof beland. Wie weet, later word julle skuldig bevind en dan moet julle ’n lang tyd in die tronk gaan sit.”

LUKAS 12:41-59 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?” En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank – wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie. “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te bring en Ek wens dat my taak al afgehandel was! Daar lê ’n vreeslike doop vir My voor, en Ek is onder ’n swaar las totdat dit volvoer is. Dink julle Ek het gekom om vrede op aarde te bring? Nee, Ek het gekom om stryd en verdeeldheid te bring! Van nou af sal gesinne oor My verdeeld wees, drie teen twee, en twee teen drie. Daar sal verdeeldheid wees tussen pa en seun, en seun en pa; tussen ma en dogter, en dogter en ma; tussen skoonma en skoondogter, en skoondogter en skoonma.” Toe het Jesus na die skare gedraai en gesê: “Wanneer julle wolke sien saampak in die weste, sê julle: ‘Hier kom ’n reënbui.’ En julle is reg. Wanneer die suidewind waai, sê julle: ‘Vandag sal skroeiwarm wees.’ En dit is so. Julle skynheiliges! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te vertolk, maar julle kan nie die huidige tyd vertolk nie. “Hoekom kan julle nie self besluit wat is reg nie? As julle saam met julle teenparty op pad hof toe is, doen moeite om ’n ooreenkoms te bereik voordat julle saak voor die regter kom, of julle kan gevonnis word en aan die polisie oorhandig word en in die tronk gestop word. En as dit gebeur, sal julle nie vrykom voordat julle die laaste sent betaal het nie.”

LUKAS 12:41-59 Bybel vir almal (ABA)

Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?” Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi, en Ek wens die vuur het al klaar begin brand. God sal My baie swaar laat kry, en Ek sal bekommerd en bang bly totdat dit gebeur het. Dink julle Ek het gekom om vrede te bring op die aarde? Nee, Ek sê vir julle: Ek het gekom, en nou twis mense met mekaar. Van nou af sal daar vyf mense in een huis wees wat twis, drie mense teen twee, en twee mense teen drie. 'n Pa sal twis met sy seun, en 'n seun sal twis met sy pa. 'n Ma sal twis met haar dogter, en 'n dogter sal twis met haar ma. 'n Skoonma sal twis met haar skoondogter, en 'n skoondogter sal twis met haar skoonma.” Toe sê Jesus ook vir die mense: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien, dan sê julle dadelik: ‘Dit sal reën.’ En julle is reg, dit gebeur. En wanneer julle sien die suidewind waai, dan sê julle: ‘Dit sal vandag baie warm wees.’ En dit gebeur ook so. Julle skynheiliges, julle verstaan goed wat in die natuur gebeur, maar julle verstaan nie die dinge wat nou gebeur nie. Julle weet goed wat die regte ding is om te doen. Hoekom doen julle dit nie? Wanneer iemand jou hof toe vat, en julle loop hof toe, dan moet jy alles doen wat jy kan om vrede te maak met die een wat jou hof toe vat. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou vat tot by die regter, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

LUKAS 12:41-59 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. EK het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. EN Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie. Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.

LUKAS 12:41-59 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel. “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.” “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is! “Maar daar is 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?” “Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie? “Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie. Ek verseker jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

LUKAS 12:41-59 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of selfs tot almal? En die Here het gesê: Wie is dan daardie getroue en wyse bestuurder wat sy heer oor sy huisgesin sal aanstel, om hulle op die regte tyd hulle deel van die vleis te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, dat hy hom sal aanstel as heerser oor alles wat hy het. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om die diensknegte en diensmeisies te slaan en te eet en te drink en dronk te word; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en hy sal hom uitsny en hom sy deel met die ongelowiges bepaal. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en hom nie voorberei het nie en nie volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. Want aan elkeen wat baie gegee word, van hom sal veel geëis word; en aan wie die mense baie toevertrou het, van hom sal hulle des te meer vra. Ek het gekom om vuur op die aarde te stuur; en wat sal ek as dit al aangesteek is? Maar ek het 'n doop om mee gedoop te word; en hoe benoud is ek totdat dit volbring is! Sê julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te gee? Ek sê vir jou, Nee; maar eerder verdeeldheid: Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun, en die seun teen die vader; die moeder teen die dogter, en die dogter teen die moeder; die skoonmoeder teen haar skoondogter, en die skoondogter teen haar skoonmoeder. En Hy sê ook vir die volk: As julle 'n wolk uit die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom 'n bui; en so is dit. En as julle die suidewind sien waai, sê julle: Daar sal hitte wees; en dit het gebeur. Geveinsdes, julle kan die aangesig van die hemel en die aarde onderskei; maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie onderskei nie? Ja, en waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Wanneer jy saam met jou teëstander na die magistraat gaan, soos jy op die pad is, beywer jou dat jy van hom verlos kan word; dat hy jou nie by die regter aanleer en die regter jou aan die offisier oorgee en die offisier jou in die gevangenis werp nie. Ek sê vir jou: Jy mag nie daarvandaan vertrek voordat jy die heel laaste geld betaal het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid