Lukas 12

12
Jesus sê 'n mens kan nie die waarheid wegsteek nie
(Ook Matt 16:6; 10:26-27; Mark 8:15)
1Toe Jesus met die Fariseërs en die skrifgeleerdes gepraat het, het daar ander mense ook gekom. Daar was so baie mense dat hulle mekaar raakgetrap het. Jesus praat toe eers met sy dissipels. Hy het gesê: “Julle moet oppas vir die Fariseërs, hulle is vals. Hulle is soos suurdeeg, 'n mens sien nie dat dit werk nie. 2Mense kan probeer om dit weg te steek dat hulle vals is, maar God sal dit vir almal wys. Mense doen nou dinge in die geheim, maar God sal vir almal sê wat dit is. 3Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in 'n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.”
Die dissipels moet vir God bang wees, nie vir mense nie
(Ook Matt 10:28-31)
4“Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie. 5Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees. 6'n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie. 7Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.”
Die dissipels moet vir die mense vertel van Jesus
(Ook Matt 10:32-33,19-20; 12:32; Mark 3:29; 13:11; Luk 21:14-15; Joh 14:26)
8Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My. 9Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek ook vir God se engele sê daardie persoon behoort nie aan My nie. 10As iemand iets sê teen My, die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nie vergewe nie. 11En wanneer die mense julle na die Joodse regters in die sinagoges vat of wanneer hulle julle hof toe vat, na heidense regters toe, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet antwoord of wat julle moet sê nie. 12Die Heilige Gees sal vir julle leer wat julle dan moet sê.”
Jesus waarsku teen mense wat altyd meer wil hê. Die gelykenis van die ryk dwaas
13Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.”
14Maar Jesus het vir hom gesê: “Man, Ek het nie gekom om regter oor julle te wees of om te besluit wat elkeen moet erf nie.”
15Toe sê Jesus vir die mense: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie, want dit maak nie saak hoeveel goed 'n mens het nie, dit is nie belangrik vir jou lewe nie.”
16Toe vertel Jesus vir hulle 'n gelykenis. Hy het gesê: “Daar was 'n ryk man wat baie koring afgesny het. Toe hulle die koring begin afsny, 17het hy met homself gepraat en gesê: ‘Wat sal ek doen? Ek het nie genoeg plek waar ek al die koring kan bêre nie.’ 18Toe sê hy: ‘Ek weet wat ek sal doen: Ek sal my stoorkamers afbreek en nuwe stoorkamers bou wat groter is. Dan sal ek al my koring en ander goed daarin bêre. 19En dan sal ek vir myself sê ek het nou baie goed wat ek gebêre het vir baie jare wat kom, nou kan ek lekker gaan rus, ek kan eet en drink en die lewe geniet.’ 20Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is 'n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’ 21So gaan dit met 'n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.”
Die dissipels moenie bekommerd wees oor hulle lewe nie
(Ook Matt 6:25-34,19-21)
22Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie. 23Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. 24Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. 25Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. 26As julle nie julle lewe 'n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge? 27Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle, koning Salomo was ryk en hy het mooi klere aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. 28God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand hulle in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter vir julle sorg as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. 29Julle moenie aanhou dink oor wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Julle moenie aanhou bekommerd wees oor alles nie, 30want al hierdie dinge is belangrik vir die mense van die wêreld, die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 31Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee. 32Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees. 33Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie. 34Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir julle die belangrikste wees. Dan sal julle net dink aan God wat in die hemel is.”
Die slawe wat altyd wakker en gereed is
(Ook Matt 24:43-51; Mark 13:33-37)
35“Julle moet altyd gereed wees, julle lampe moet altyd brand. 36Julle moet wees soos slawe wat wag dat hulle eienaar terugkom van die fees by 'n bruilof. Wanneer die eienaar kom en aan die deur klop, dan maak die slawe dadelik die deur vir hom oop. 37Die slawe wat wakker is wanneer die eienaar kom, sal baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal sê hulle moet by die tafel kom sit. Hy sal sy voorskoot aansit en hy sal hulle bedien. 38Ja, daardie slawe sal waarlik gelukkig wees as hulle gereed is, ook as die eienaar laat in die nag of baie vroeg in die oggend kom en hy sien sy slawe is wakker. 39Maar ook die eienaar van 'n huis moet wakker en gereed wees, want as hy weet presies hoe laat die dief kom, dan sal hy seker maak dat die dief nie by sy huis kan inbreek nie. 40Julle moet ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.”
41Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?”
42Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. 43Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. 44Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. 45Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. 46En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. 47Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. 48Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.”
Jesus laat mense twis met mekaar
(Ook Matt 10:34-36)
49“Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi, en Ek wens die vuur het al klaar begin brand. 50God sal My baie swaar laat kry, en Ek sal bekommerd en bang bly totdat dit gebeur het. 51Dink julle Ek het gekom om vrede te bring op die aarde? Nee, Ek sê vir julle: Ek het gekom, en nou twis mense met mekaar. 52Van nou af sal daar vyf mense in een huis wees wat twis, drie mense teen twee, en twee mense teen drie. 53'n Pa sal twis met sy seun, en 'n seun sal twis met sy pa. 'n Ma sal twis met haar dogter, en 'n dogter sal twis met haar ma. 'n Skoonma sal twis met haar skoondogter, en 'n skoondogter sal twis met haar skoonma.”
Mense moet verstaan wat gebeur en hulle moet vrede maak met God
(Ook Matt 16:2-3; 5:25-26)
54Toe sê Jesus ook vir die mense: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien, dan sê julle dadelik: ‘Dit sal reën.’ En julle is reg, dit gebeur. 55En wanneer julle sien die suidewind waai, dan sê julle: ‘Dit sal vandag baie warm wees.’ En dit gebeur ook so. 56Julle skynheiliges, julle verstaan goed wat in die natuur gebeur, maar julle verstaan nie die dinge wat nou gebeur nie. 57Julle weet goed wat die regte ding is om te doen. Hoekom doen julle dit nie? 58Wanneer iemand jou hof toe vat, en julle loop hof toe, dan moet jy alles doen wat jy kan om vrede te maak met die een wat jou hof toe vat. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou vat tot by die regter, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. 59Ek sê vir jou, jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

Tans Gekies:

Lukas 12: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid