LUKAS 12:41-59

LUKAS 12:41-59 AFR53

Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. EK het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. EN Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie. Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 12:41-59