Joël 2:1-11

Joël 2:1-11 ABA

Julle moet die ramshoring blaas en hard skree op my gewyde berg Sion. Almal wat in die land woon, moet bewe, want die dag van die Here kom nou, die dag is naby. Dit sal daardie dag baie donker wees, die wolke sal swart wees. Die sprinkane sal soos baie en sterk soldate oral op die berge wees en hulle sal alles donker maak. Soos die lig in die oggend oor die berge kom, so sal die sprinkane oral op die berge wees. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie en daar sal nooit weer so baie wees nie. Waar die voorste sprinkane vreet, lyk dit of 'n vuur alles afbrand, en wanneer die agterste sprinkane weggaan, dan is die veld so kaal soos wanneer dit afgebrand het. Voordat die sprinkane kom, lyk die veld soos 'n baie mooi tuin, en wanneer hulle weggaan, dan lyk die veld soos 'n woestyn. Niks kan daar lewe nie. Daar bly niks oor nie. Die sprinkane lyk soos perde, hulle hardloop soos vinnige perde. Hulle raas soos wanneer oorlogkarre oor die berge jaag, hulle raas soos wanneer kaf in 'n vuur brand, soos wanneer baie soldate aankom om oorlog te maak. Al die volke bewe wanneer die sprinkane kom, almal skrik, en hulle gesigte word bleek. Die sprinkane hardloop soos soldate wat kom oorlog maak, hulle klim bo-oor die stad se mure. Elkeen gaan reguit vorentoe, hy draai nie links of regs nie. Hulle stamp nie teen mekaar nie, elkeen loop op sy eie pad. Die mense gooi baie sprinkane met klippe dood, maar die ander sprinkane staan nie stil nie. Hulle hardloop in die stad in, hulle hardloop oor die mure, hulle klim teen die huise op, hulle klim soos diewe deur die vensters. Wanneer die sprinkane kom, dan bewe die aarde en skud die hemel. Dan word die son en die maan donker, en die sterre skyn nie meer nie. Dit is die Here self wat die sprinkane bring. Die sprinkane is sy soldate, en Hy roep hulle om te kom. Hulle is baie soldate en hulle is sterk, en hulle almal luister na Hom. Ja, die dag van die Here is 'n vreeslike dag! Dit is 'n verskriklike dag, niemand sal lewe wanneer daardie dag verby is nie.