Blaas die •ramshoring op Sion,
maak alarm op my heilige berg!
Al die inwoners van die land moet bewe,
want die dag van die HERE
is aan die kom,
ja, dit is naby!
Dit is 'n dag van duisternis en donkerte,
'n dag van wolke en diepe duisternis.
Soos die rooidag wat oor die berge uitsprei,
so is daar 'n groot en magtige volk
soos daar nog nooit tevore was,
of ooit weer sal wees nie
tot in die verste nageslag.
Voor hulle uit verteer 'n vuur,
en agter hulle verskroei 'n vlam.
Soos die tuin van Eden
is die land voor hulle,
maar agter hulle
lê 'n verlate woestyn.
Boonop is dit nie moontlik
om van hulle te ontvlug nie.
Soos perde lyk hulle,
soos oorlogsperde, so hardloop hulle.
Soos met die geratel van strydwaens
storm hulle oor die bergtoppe,
soos die geknetter van vlamme
wat strooi verteer,
soos 'n magtige volk
wat vir die oorlog opgestel is.
Voor hom bewe volke,
almal se gesigte is doodsbleek.
Soos krygshelde storm hulle,
soos krygsmanne klim hulle
teen die stadsmuur uit:
Elkeen van hulle gaan reguit vorentoe,
hulle verander nie van rigting nie.
Die een hinder die ander nie,
elke manskap bly op koers;
al sneuwel sommige onder die aanslag,
hulle wyk nie af nie.
Hulle bestorm die stad,
op die stadsmuur hardloop hulle,
die huise val hulle binne,
deur die vensters klim hulle soos diewe.
Voor hierdie volk bewe die aarde,
skud die hemele.
Son en maan word duister,
die sterre hou hulle glans terug.
En die HERE self verhef sy stem
voor sy leërmag uit,
want geweldig groot is sy leër,
ja, magtig is hulle wat sy bevel uitvoer.
Voorwaar, die dag van die HERE
is groot, uitermate verskriklik –
wie kan dit verduur?