JOËL 2:1-11

JOËL 2:1-11 NLV

Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die HERE kom en is naby. Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie. Voor die leër brand vuur en agter volg ’n brandende vlam. Voor hulle lê die land soos die Tuin van Eden, maar agter die leër is ’n verlate verwoesting gelaat. Niks kan hulle ontsnap nie. Hulle lyk soos perde en hulle galop soos oorlogsperde. Hulle klink soos strydwaens wat oor die heuweltoppe voortdreun! Hulle raas soos vuur wat ’n grasveld verteer of soos ’n magtige leër wat gereed is om oorlog te maak. Angs oorweldig die mense; hulle gesigte is bleek van vrees. Die dapper soldate storm vorentoe, soos opgeleide manskappe klim hulle oor die mure. Hulle marsjeer doelgerig vorentoe, niks laat hulle van hulle koers afwyk nie. Hulle stamp nooit teen mekaar nie, elkeen bly op sy regte plek. Hulle bars deur die verdediging, geen wapen kan hulle stop nie. Hulle oorval die stad en hardloop op die mure. Hulle val die huise binne, en klim soos diewe deur vensters. Soos hulle voortbeweeg, skud die aarde en bewe die hemel. Die son en die maan verdonker en die sterre skyn nie meer nie. Die HERE roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die HERE is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?