Job 30:20-31

Job 30:20-31 ABA

O God, ek het geroep na U en ek het gevra dat U my moet help, maar U het my nie geantwoord nie. Ek staan hier, maar U kyk net na my, U doen niks. U het wreed geword teen my, U jaag my met u sterk hand. U tel my op en U gooi my vir die wind, U gee my vir die stormwind om my heen en weer te ruk. Ja, ek weet dat U my na die dood wil bring, na die plek waarnatoe almal moet gaan. Maar ek het mense altyd gehelp wanneer hulle swaarkry en skree en vra dat iemand hulle moet help. Ek het gehuil saam met die mense wat 'n moeilike lewe gehad het, ek was altyd jammer vir arm mense. Ek het toe gedink dat dit goed sal gaan met my, maar dit het sleg gegaan, ek het gedink dat die lig sal skyn oor my, maar die donker het gekom.” “Alles in my kook, dit word nie stil nie, dit gaan elke dag slegter. Ek lewe elke dag in die donker, die son skyn nie op my nie. Ek staan in die volksvergadering en ek vra dat iemand my moet help. Ek huil saam met die jakkalse, ek is so alleen soos die volstruise. My vel het swart geword, die bene in my is warm van die koors. As ek op my lier speel, dan doen ek dit om 'n klaaglied te sing, as ek die fluit blaas, dan huil ek saam met die fluit.”