Johannes 1:1-28

Johannes 1:1-28 ABA

Die Woord was daar voor alles begin het. Die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was in die begin by God. God en die Woord het alles gemaak. God het niks alleen gemaak nie. Hy en die Woord het alles gemaak. Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense. Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie. God het 'n man gestuur, sy naam was Johannes. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig. Die Woord was die ware lig. Hy moes vir al die mense lig bring. Hy het klaar begin om na die wêreld te kom. Die Woord was in die wêreld. God en die Woord het die wêreld gemaak, maar die mense van die wêreld wou nie die Woord ken nie. Hy het na sy eie mense toe gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie. Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo. Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees. Elke mens het 'n pa, maar die kinders van God het nóg 'n pa. Hulle Vader is God self. Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon. Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is. Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom. Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is. Johannes het vir die mense vertel van die Woord. Hy het gesê: “Hy is die Een, ek het van Hom gepraat toe ek vir julle gesê het: ‘Iemand sal kom nadat ek gekom het. Maar Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ ” Die Woord is vol genade. Ons het genade gekry van Hom, baie genade. Moses het die wette gebring, maar Jesus Christus het die genade gebring wat nooit ophou nie. Niemand het vir God gesien nie, nog nooit nie. Maar Jesus Christus het vir ons duidelik kom sê hoe God is. Niemand anders is soos Jesus nie, Hy is self God en Hy is altyd naby die Vader. Die Jode het priesters en Leviete uit Jerusalem na Johannes toe gestuur. Hulle het vir hom gevra: “Wie is jy?” Johannes het toe vir hulle vertel. Hy het nie stilgebly daaroor nie, hy het reguit met hulle gepraat en gesê: “Ek is nie die Christus nie.” Toe vra hulle vir Johannes: “Wie is jy? Is jy Elia?” En hy sê: “Nee, ek is nie Elia nie.” Toe vra hulle: “Is jy die profeet?” Hy het geantwoord: “Nee.” Hulle het vir hom gesê: “Wie is jy? Sê vir ons, want ons moet dit gaan vertel vir die mense wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?” Johannes het gesê: Ek is die man wat in die woestyn skree en sê: Maak die pad gereed vir die Here! Dit is wat die profeet Jesaja gesê het. Die Jode het die mense na Johannes toe gestuur. Party van die mense was Fariseërs. Die Fariseërs het vir Johannes gesê: “Jy sê jy is nie die Christus of Elia of die profeet nie. Hoekom doop jy die mense?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water. Maar daar is Iemand by julle, julle ken Hom nie. Hy is die Een wat sal kom nadat ek gekom het. Hy is baie belangrik, ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.” Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop.