Johannes 1:1-28

Johannes 1:1-28 DB

Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God. Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak. Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop. Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie. Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val. Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak. Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie. Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê. Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is. Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.” Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie. God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is. Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?” Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!” “Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?” “Nee.” Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?” “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’” Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?” “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.” Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het.