JOHANNES 1:1-28

JOHANNES 1:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Die Woord was daar voor alles begin het. Die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was in die begin by God. God en die Woord het alles gemaak. God het niks alleen gemaak nie. Hy en die Woord het alles gemaak. Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense. Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie. God het 'n man gestuur, sy naam was Johannes. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig. Die Woord was die ware lig. Hy moes vir al die mense lig bring. Hy het klaar begin om na die wêreld te kom. Die Woord was in die wêreld. God en die Woord het die wêreld gemaak, maar die mense van die wêreld wou nie die Woord ken nie. Hy het na sy eie mense toe gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie. Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo. Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees. Elke mens het 'n pa, maar die kinders van God het nóg 'n pa. Hulle Vader is God self. Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon. Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is. Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom. Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is. Johannes het vir die mense vertel van die Woord. Hy het gesê: “Hy is die Een, ek het van Hom gepraat toe ek vir julle gesê het: ‘Iemand sal kom nadat ek gekom het. Maar Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ ” Die Woord is vol genade. Ons het genade gekry van Hom, baie genade. Moses het die wette gebring, maar Jesus Christus het die genade gebring wat nooit ophou nie. Niemand het vir God gesien nie, nog nooit nie. Maar Jesus Christus het vir ons duidelik kom sê hoe God is. Niemand anders is soos Jesus nie, Hy is self God en Hy is altyd naby die Vader. Die Jode het priesters en Leviete uit Jerusalem na Johannes toe gestuur. Hulle het vir hom gevra: “Wie is jy?” Johannes het toe vir hulle vertel. Hy het nie stilgebly daaroor nie, hy het reguit met hulle gepraat en gesê: “Ek is nie die Christus nie.” Toe vra hulle vir Johannes: “Wie is jy? Is jy Elia?” En hy sê: “Nee, ek is nie Elia nie.” Toe vra hulle: “Is jy die profeet?” Hy het geantwoord: “Nee.” Hulle het vir hom gesê: “Wie is jy? Sê vir ons, want ons moet dit gaan vertel vir die mense wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?” Johannes het gesê: Ek is die man wat in die woestyn skree en sê: Maak die pad gereed vir die Here! Dit is wat die profeet Jesaja gesê het. Die Jode het die mense na Johannes toe gestuur. Party van die mense was Fariseërs. Die Fariseërs het vir Johannes gesê: “Jy sê jy is nie die Christus of Elia of die profeet nie. Hoekom doop jy die mense?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water. Maar daar is Iemand by julle, julle ken Hom nie. Hy is die Een wat sal kom nadat ek gekom het. Hy is baie belangrik, ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.” Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop.

JOHANNES 1:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. JOHANNES getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee. Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself? Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het. En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie? Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie — dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie. Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

JOHANNES 1:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord. “Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?” Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het. Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

JOHANNES 1:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore. En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ” Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak. En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!” Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?” Hy antwoord toe, “Ek is ‘die stem van een wat uitroep in die woestyn: “Maak die pad van die Here reguit!” ’ – “soos die profeet Jesaja gesê het.” Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs, en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

JOHANNES 1:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Dieselfde was in die begin by God. Alle dinge is deur Hom gemaak; en sonder Hom is niks gemaak wat gemaak is nie. In Hom was lewe; en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis; en die duisternis het dit nie begryp nie. Daar was 'n man wat van God gestuur is, wie se naam Johannes was. Hy het gekom as 'n getuienis om van die Lig te getuig, sodat alle mense deur Hom sou glo. Hy was nie daardie Lig nie, maar is gestuur om van daardie Lig te getuig. Dit was die ware Lig wat elke mens verlig wat in die wêreld kom. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie het Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. Wat nie uit bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n mens gebore is nie, maar uit God. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon (en ons het sy heerlikheid aanskou, die heerlikheid van die Eniggeborene van die Vader) vol genade en waarheid. Johannes het van hom getuig en uitgeroep en gesê: Dit was hy van wie ek gespreek het: Hy wat ná my kom, is voor my verkies, want hy was voor my. En uit sy volheid het ons alles ontvang, en genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee, maar genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God ooit gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, Hy het Hom verklaar. En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem gestuur het om hom te vra: Wie is jy? En hy het belydenis gedoen en nie ontken nie; maar bely: Ek is nie die Christus nie. En hulle vra hom: Wat dan? Is jy Elias? En hy sê: Ek is nie. Is jy daardie profeet? En hy antwoord: Nee. Toe sê hulle vir hom: Wie is jy? sodat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê jy van jouself? Hy het gesê: Ek is die stem van een wat in die woestyn roep: Maak die pad van die Here gelyk, soos die profeet Jesaja gesê het. En die wat gestuur is, was uit die Fariseërs. En hulle het hom gevra en vir hom gesê: Waarom doop jy dan as jy nie daardie Christus is nie, of Elía, ook nie daardie profeet nie? Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar daar staan een onder julle wat julle nie ken nie; Hy is dit wat na my kom, voor my verkies, wie se skoengrendel ek nie waardig is om los te maak nie. Hierdie dinge is gedoen in Betabara anderkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

JOHANNES 1:1-28 Die Boodskap (DB)

Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God. Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak. Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop. Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie. Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val. Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak. Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie. Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê. Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is. Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.” Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie. God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is. Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?” Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!” “Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?” “Nee.” Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?” “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’” Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?” “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.” Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het.

JOHANNES 1:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig. Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld. Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore. En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’” Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang. Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak. Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?” Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.” En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê Johannes. “Is jy dan die profeet?” “Beslis nie!” het hy geantwoord. Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?” Sy reaksie was: “Ek is ’n stem wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here reguit.’” Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê. Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom. Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?” Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

JOHANNES 1:1-28

JOHANNES 1:1-28 AFR83JOHANNES 1:1-28 AFR83