1 Korintiërs 13:7-12

1 Korintiërs 13:7-12 ABA

Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig. Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop. Want ons weet net 'n bietjie, en ons bring net 'n bietjie van God se boodskap. Maar eendag, wanneer alles is soos God dit wil hê, dan sal die dinge wat ons nou ken en het, nie meer nodig wees nie. Toe ek 'n kind was, het ek dinge gesê soos 'n kind dit sê, ek het gedink soos 'n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos 'n kind. Maar toe ek 'n grootmens geword het, het ek die dinge van 'n kind gelos. In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer 'n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.