PSALMS 65:1-13

PSALMS 65:1-13 NLV

O God, lof kom U toe in Sion. Ons geloftes sal ons betaal. O Hoorder van gebed, na U toe sal alle mense kom. Wanneer sondige dade my oorweldig, vergewe dan tog my opstandigheid. Geseënd is dié vir wie U uitkies, hulle wat U laat naderkom en in u tempel laat woon. Mag ons oorlaai word met die goedheid van u huis, in u heilige tempel. God ons verlosser, U antwoord ons met magtige dade en in geregtigheid. Tot aan die einde van die aarde en vanaf die verste seë hoop mense op U. Deur u krag is die berge gevorm; Uself is met mag omgord. U bedaar die gedruis van die see, die dreuning van die golwe, en die rumoer van die nasies. Mense in afgeleë plekke kry ontsag vir u wonders. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, laat U hulle sing van vreugde. U versorg die aarde, en laat dit reën, U maak dit ryk en vrugbaar. Die riviere van God is vol water; U verskaf graan soos U bepaal het. U vul die leivore met water, en deurweek die kluite; U laat hulle sag word van reën en laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes; in u spore volg daar oorvloed. Die woestyn word ’n weiland, die heuwels is oordek met vreugde.

Video vir PSALMS 65:1-13