PSALMS 65:1-13
PSALMS 65:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: 'n Psalm van Dawid. 'n Lied. O God, ons wil stil wees voor U, ons wil U prys in Sion, ons wil doen wat ons vir U belowe het. Dit is U wat luister wanneer mense tot U bid. Al die mense wil na U toe kom om te bely dat hulle sondaars is. Ons sondes is vir ons te veel om te dra, dit is U wat ons sondes moet wegneem. Dit gaan goed met iemand wanneer U hom kies en hom laat nader kom om voor u tempel te staan. Hy sal genoeg kry van al die goeie dinge in u tempel, u gewyde woonplek. Wanneer U reg doen aan ons en vir ons antwoord, dan doen U wonderlike dinge, U, die God wat ons red. Al die mense weet dat U sal help, al die mense in die verste plekke op die aarde en ver anderkant die see. U is sterk, sterker as alles en almal, U het die berge neergesit op hulle plek. Wanneer U praat, dan word die see en sy branders stil, en die volke hou op om te raas. Die wonderwerke wat U doen, laat die mense op die hele aarde bang word. U laat hulle vrolik sing in die ooste en in die weste. U sorg vir die aarde, U gee die reën, U maak die grond baie vrugbaar. 'n Groot stroom water kom van U en U laat die koring groei, ja, U doen dit alles. U laat dit baie reën in die koringlande, daar is baie water waar die mense geploeg het. U maak die harde stukke grond nat, dit word sag van die reën. U laat die plante groei. U maak dit 'n mooi jaar, alles groei goed, oral waar U gaan. Die weivelde is vol gras, die heuwels juig.
PSALMS 65:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied. Aan U kom 'n lofsang toe, o God, in Sion, en aan U moet die gelofte betaal word. O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom! Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad, maar U versoen ons oortredinge. Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis. Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid, o God van ons heil, vertroue van al die eindes van die aarde en van die verste see! Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag, wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke; sodat die bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange van die môre en die aand jubel. U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land. U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel. U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.
PSALMS 65:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied. Aan U, o God, kom 'n lofsang toe in Sion: geloftes moet betaal word aan U wat die gebed verhoor. Na U toe sal alle mense kom om hulle skuld te bely. Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry. Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet, die goeie dinge in u heilige woning. In u trou antwoord U ons met kragtige dade, o God, ons Verlosser, op wie ook die mense in afgeleë lande en op verre seë vertrou. U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan; U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar, sodat ook die mense in afgeleë lande ontsag kry vir die tekens van u mag; in die ooste en in die weste laat U die mense juig. U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk! U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Daar is volop weiding in die woestyn; die bulte juig
PSALMS 65:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. 'n Lied. Aan U kom 'n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. U wat gebede hoor – na U moet alle mense kom. Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredings. Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom – hy mag woon in u voorhowe. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u •tempel. U antwoord ons in geregtigheid met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos – U, die vertroude tot aan al die eindes van die aarde en die verste seë, die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, wat die gedreun van die seë stilmaak, die gedreun van hulle golwe, die rumoer van volke. Daarom het die bewoners van die eindes van die aarde ontsag vir u tekens. U laat 'n gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan. U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, want so berei U die grond voor: U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. U kroon u goeie jaar; u spore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, die heuwels omgord hulle met 'n gejuig.
PSALMS 65:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Lof wag op U, o God, in Sion, en aan U sal die gelofte uitgevoer word. O jy wat die gebed hoor, na jou sal alle vlees kom. Ongeregtighede oorwin my: ons oortredinge moet U uitwis. Geseënd is die man wat U uitkies en na U laat nader kom, dat hy in u voorhowe kan woon; ons sal versadig word met die goedheid van u huis, van u heilige tempel. Deur vreeslike dinge in geregtigheid sal U ons antwoord, o God van ons heil; wat die vertroue is van al die eindes van die aarde en van die wat ver op die see is; wat deur sy krag die berge vasmaak; omgord met krag: wat die geraas van die see stilmaak, die geraas van hulle golwe en die rumoer van die mense. Ook die wat in die eindes woon, is bang vir u tekens; U maak die uitgange van die môre en die aand bly. U besoek die aarde en bevogtig dit; U verryk dit baie met die rivier van God wat vol water is; U berei vir hulle koring as U dit daarvoor voorsien het. U laat sy rante oorvloedig natmaak, sy vore maak U vas; U maak dit sag met buie; U seën die spruit daarvan. U kroon die jaar met u goedheid; en jou paaie drup van vet. Hulle val op die weivelde van die woestyn, en die heuwels juig van alle kante. Die weivelde is bekleed met kleinvee; ook is die valleie bedek met koring; hulle roep van blydskap, hulle sing ook.
PSALMS 65:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
O God, lof kom U toe in Sion. Ons geloftes sal ons betaal. O Hoorder van gebed, na U toe sal alle mense kom. Wanneer sondige dade my oorweldig, vergewe dan tog my opstandigheid. Geseënd is dié vir wie U uitkies, hulle wat U laat naderkom en in u tempel laat woon. Mag ons oorlaai word met die goedheid van u huis, in u heilige tempel. God ons verlosser, U antwoord ons met magtige dade en in geregtigheid. Tot aan die einde van die aarde en vanaf die verste seë hoop mense op U. Deur u krag is die berge gevorm; Uself is met mag omgord. U bedaar die gedruis van die see, die dreuning van die golwe, en die rumoer van die nasies. Mense in afgeleë plekke kry ontsag vir u wonders. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, laat U hulle sing van vreugde. U versorg die aarde, en laat dit reën, U maak dit ryk en vrugbaar. Die riviere van God is vol water; U verskaf graan soos U bepaal het. U vul die leivore met water, en deurweek die kluite; U laat hulle sag word van reën en laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes; in u spore volg daar oorvloed. Die woestyn word ’n weiland, die heuwels is oordek met vreugde.