JESAJA 43:1-13

JESAJA 43:1-13 NLV

Maar nou, Jakob, sê die HERE wat jou geskep het, Hy wat jou gevorm het, Israel: “Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die HERE jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte, Kus en Seba as ’n losprys vir jou vryheid. Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, in ruil vir jou lewe. Daarom, moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou en jou kinders bymekaarbring vanaf die ooste en hulle versamel uit die weste. Vir die noorde sal Ek sê: ‘Gee terug!’ en vir die suide: ‘Moenie terughou nie!’ Bring my seuns van ver af en my dogters vanaf die verste uithoeke van die aarde, elkeen wat My as God erken, wat Ek tot my eer gemaak het, wat Ek gevorm en gemaak het.” Bring die volk uit wat oë het, maar niks kan sien nie, wat ore het, maar niks hoor nie. Laat al die nasies bymekaarkom, almal moet teenwoordig wees. Watter een van die afgode kon ooit so iets voorspel? Wie kan vooraf sê wat môre sal gebeur? Laat hulle hulle getuies roep om te bewys hulle was reg sodat ander dit kan hoor en sê: “Dit is waar.” “Julle is my getuies, Israel,” sê die HERE. “En jy is my dienaar wat Ek uitverkies het om My te ken en in My te glo, en te verstaan dat Ek alleen die HERE is. Vóór My was daar geen God nie en ná My sal daar geen God wees nie. Ek, ja, Ek is die HERE. Buiten My is daar niemand wat jou kan red nie. Ek het die verlossing aangekondig. Ek het eers gesê wat Ek gaan doen en julle toe gered. Geen vreemde god kon dit doen nie. Julle is getuies dat Ek die enigste God is,” sê die HERE. “Van altyd af is Ek God. Niemand kan uit my hand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand omkeer nie.”