JESAJA 43:1-13

JESAJA 43:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Maar nou,” so sê die HERE, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar. Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’ en vir die suide, ‘Moenie gevange hou nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. Elkeen wat na my Naam genoem is – tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ” Laat 'n volk wat blind is, en tog oë het, wat doof is, en tog ore het, na vore tree. Al die nasies is byeengebring, die volke het bymekaargekom. Wie onder hulle kan die saak stel, vir ons die dinge van vroeër verklaar? Hulle moet hulle getuies bring, sodat hulle gelyk gegee kan word. Die getuies moet luister, sodat hulle kan sê: “Dit is waar.” “ Julle is my getuies,” is die uitspraak van die HERE, “my dienskneg wat Ek uitgekies het, sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is. Voor My is daar nie 'n god gevorm nie, en ná My sal daar nie een wees nie. Ek, ja, Ek is die HERE, en daar is geen verlosser buiten My nie. Ek is die Een wat dit bekend gemaak het; Ek het verlos en dit aangekondig – Ek, nie 'n vreemde onder julle nie. En julle is my getuies,” is die uitspraak van die HERE, “dat Ek God is. Ook voortaan is Ek die Een; uit my hand kan niemand red nie. Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak? ”

JESAJA 43:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar nou, Jakob, sê die HERE wat jou geskep het, Hy wat jou gevorm het, Israel: “Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die HERE jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte, Kus en Seba as ’n losprys vir jou vryheid. Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, in ruil vir jou lewe. Daarom, moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou en jou kinders bymekaarbring vanaf die ooste en hulle versamel uit die weste. Vir die noorde sal Ek sê: ‘Gee terug!’ en vir die suide: ‘Moenie terughou nie!’ Bring my seuns van ver af en my dogters vanaf die verste uithoeke van die aarde, elkeen wat My as God erken, wat Ek tot my eer gemaak het, wat Ek gevorm en gemaak het.” Bring die volk uit wat oë het, maar niks kan sien nie, wat ore het, maar niks hoor nie. Laat al die nasies bymekaarkom, almal moet teenwoordig wees. Watter een van die afgode kon ooit so iets voorspel? Wie kan vooraf sê wat môre sal gebeur? Laat hulle hulle getuies roep om te bewys hulle was reg sodat ander dit kan hoor en sê: “Dit is waar.” “Julle is my getuies, Israel,” sê die HERE. “En jy is my dienaar wat Ek uitverkies het om My te ken en in My te glo, en te verstaan dat Ek alleen die HERE is. Vóór My was daar geen God nie en ná My sal daar geen God wees nie. Ek, ja, Ek is die HERE. Buiten My is daar niemand wat jou kan red nie. Ek het die verlossing aangekondig. Ek het eers gesê wat Ek gaan doen en julle toe gered. Geen vreemde god kon dit doen nie. Julle is getuies dat Ek die enigste God is,” sê die HERE. “Van altyd af is Ek God. Niemand kan uit my hand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand omkeer nie.”

JESAJA 43:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Maar, Israeliete, nageslag van Jakob, nou sê die Here, Hy wat julle gemaak het: “Julle moenie bang wees nie, want Ek maak julle vry. Ek het julle geroep, Ek het julle name genoem, julle is Myne. Wanneer julle deur water moet gaan, dan is Ek by julle, riviere sal nie oor julle vloei nie. Wanneer julle deur vuur moet gaan, dan sal die vlamme julle nie brand nie. Ja, Ek is julle God die Here, Ek is die Heilige God van Israel wat julle red. Ek gee die mense van die lande Egipte, Kus en Seba in julle plek sodat julle vry kan word. Ek gee ander volke in julle plek, want julle is baie belangrik vir My, en Ek is lief vir julle. Julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle, Ek sal julle en julle kinders bymekaarmaak en Ek sal julle bring uit die ooste en uit die weste. Ek sal vir die mense in die noorde sê: Julle moet my volk teruggee! En Ek sal vir die mense in die suide sê: Julle moenie my volk vashou nie! Bring my seuns en my dogters van ver, van oral op die aarde. Bring elkeen wat Ek geroep het sodat hy aan My sal behoort, bring elkeen wat Ek gemaak het sodat hy My sal eer.” Die Here sê: “Julle moet my volk hiernatoe laat kom, die volk wat oë en ore het, maar wat nie wil sien nie en nie wil hoor nie. Al die volke moet hier bymekaarkom. Is daar een god by hulle wat kon sê wat sal gebeur of wat lank gelede gebeur het? As daar so 'n god is, dan moet hy praat en hy moet bewys dat hy 'n god is. Almal moet dit hoor en sê: ‘Hy praat die waarheid.’ My volk, julle is die mense wat weet wie Ek is, julle is my dienaars, Ek het julle gekies. Ek het dit gedoen sodat julle sal weet wie Ek is en My sal glo en sal verstaan. Daar was nie 'n ander god vóór My nie, en daar sal nie 'n ander god ná My wees nie. Ek, Ék is die Here. Daar is nie 'n ander god wat julle kan red nie. Dit is Ek wat met julle gepraat het en wat julle gered het. Daar was nie 'n ander god by julle nie. Julle weet Ek is God. Dit sê die Here. Ook hierna sal Ek nog altyd God wees. Niemand kan julle wegvat van My nie. Niemand kan My keer wanneer Ek iets wil doen nie.”

JESAJA 43:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het. Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het. AL die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid! Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is — voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie. Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die HERE, en Ek is God. Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?

JESAJA 43:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore. Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees. Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het? Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar. Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie 'n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

JESAJA 43:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos, Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne. As jy deur die water gaan, sal Ek by jou wees; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy nie verbrand word nie; en die vlam sal jou nie aansteek nie. Want Ek is die HERE jou God, die Heilige van Israel, jou Redder: Ek het Egipte as jou losprys gegee, Ethiopië en Seba vir jou. Aangesien jy kosbaar was in my oë, was jy eerbaar, en Ek het jou liefgehad; daarom sal Ek mense vir jou gee en mense vir jou lewe. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou nageslag uit die ooste bring en jou versamel uit die weste; Ek sal vir die noorde sê: Gee op; en na die suide: Hou jou nie terug nie; bring my seuns van ver af en my dogters van die eindes van die aarde af; Selfs elkeen oor wie my Naam uitgeroep is, want Ek het hom tot my eer geskape, Ek het hom geformeer; ja, Ek het hom gemaak. Bring die blindes uit wat oë het en die dowes wat ore het. Laat al die nasies bymekaarkom, en laat die volke bymekaarkom; wie van hulle kan dit verkondig en ons vorige dinge te kenne gee? laat hulle hul getuies na vore bring, dat hulle geregverdig kan word; of laat hulle hoor en sê: Dit is waarheid. Julle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en verstaan dat dit Ek is; Ek, Ek, is die HERE; en buiten my is daar geen redder nie. Ek het verkondig en verlos en laat sien toe daar geen vreemde god onder julle was nie; daarom is julle my getuies, spreek die HERE, dat Ek God is. Ja, voor die dag was Ek is hy; en daar is niemand wat uit my hand kan red nie. Ek sal werk, en wie sal dit laat?

JESAJA 43:1-13 Die Boodskap (DB)

Die Here het jou gemaak, Jakob. Hy het jou ’n volk gemaak, Israel. Hy sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie. Die vlamme sal jou nie brand nie. Ek is mos die Here jou God wat vir jou sorg. Die hoë God van Israel red jou. Ek het Egipte ter wille van jou opgeoffer. Ek het Kus en Seba vir jou geruil en hulle gestraf. Ek het ander mense in jou plek laat doodgaan. Ek het ander volke laat doodgaan sodat jy kan bly lewe. Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou. Jy moenie bang wees nie, want Ek staan langs jou. Ek sal jou nageslag uit die ooste uit laat terugkom. Ek sal hulle bymekaarmaak uit die weste uit. Ek sal vir die noorde beveel om hulle terug te gee. Ek sal die suide belet om hulle terug te hou. Laat my seuns wat ver is, terugkom! Laat my dogters terugkom van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle weggevoer is. Laat almal terugkom wat aan My behoort. Laat elkeen wat Ek gemaak het, terugkom om My te eer. Laat almal wat Ek geskep het en Myne gemaak het, terugkom. Laat die volk hiernatoe kom met sy oë wat nie wil sien nie. Laat hulle kom met hulle ore wat nie wil hoor nie. Laat al die nasies bymekaarkom. Maak die volke bymekaar vir ’n hofsitting. Watter god onder hulle kan dinge voorspel? Watter een kan vooraf sê wat gaan gebeur? Laat hulle hulle getuies bring wat dit kan bewys. Laat die een wat hulle verhoor, besluit of hulle die waarheid praat. Julle is my getuies, Israel, sê die Here. Julle behoort aan My. Ek het julle vir My gekies sodat julle My kan ken. Ek het julle gekies dat julle in My kan glo en kan verstaan dat net Ek God is. Daar was nie ’n god voor My nie. Na My sal daar ook geen ander god wees nie. Ek, Ek self is die Here. Daar is niemand anders wat julle kan red behalwe net Ek nie. Ek het voor die tyd gesê Ek sal julle red. Ek het dit gedoen. Ek het seker gemaak dat julle weet dat dit Ek was wat julle gered het. Daar was nie ’n ander god tussen julle wat dit kon doen nie. Julle is my getuies, sê die Here, net Ek is God. Nou en vir altyd is Ek God. Niks kan by My weggevat word nie. Wat Ek doen, kan niemand verander nie.

JESAJA 43:1-13

JESAJA 43:1-13 AFR83JESAJA 43:1-13 AFR83JESAJA 43:1-13 AFR83JESAJA 43:1-13 AFR83