JESAJA 43:1-13

JESAJA 43:1-13 AFR83

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore. Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees. Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het? Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar. Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie 'n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid