Jesaja 43:1-13

Jesaja 43:1-13 AFR20

“Maar nou,” so sê die HERE, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar. Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’ en vir die suide, ‘Moenie gevange hou nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. Elkeen wat na my Naam genoem is – tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ” Laat 'n volk wat blind is, en tog oë het, wat doof is, en tog ore het, na vore tree. Al die nasies is byeengebring, die volke het bymekaargekom. Wie onder hulle kan die saak stel, vir ons die dinge van vroeër verklaar? Hulle moet hulle getuies bring, sodat hulle gelyk gegee kan word. Die getuies moet luister, sodat hulle kan sê: “Dit is waar.” “ Julle is my getuies,” is die uitspraak van die HERE, “my dienskneg wat Ek uitgekies het, sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is. Voor My is daar nie 'n god gevorm nie, en ná My sal daar nie een wees nie. Ek, ja, Ek is die HERE, en daar is geen verlosser buiten My nie. Ek is die Een wat dit bekend gemaak het; Ek het verlos en dit aangekondig – Ek, nie 'n vreemde onder julle nie. En julle is my getuies,” is die uitspraak van die HERE, “dat Ek God is. Ook voortaan is Ek die Een; uit my hand kan niemand red nie. Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak? ”

Video for Jesaja 43:1-13