1 KORINTIËRS 13:3-13

1 KORINTIËRS 13:3-13 NLV

En al sou ek al my besittings vir die armes gee en selfs my liggaam opoffer sodat ek my daarop kon beroem, maar ek kom die liefde kort, sou dit my niks help nie. Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. Maar profesieë sal tot niet gaan, die spreek in tale sal ophou, en kennis sal verouder raak. Ons ken maar net ten dele en ons profeteer maar net ten dele. Wanneer die volmaakte egter gekom het, sal al die onvolmaakte uitgedien wees. Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ’n kind ontgroei. Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan. Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie. Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!