1 Korinthiërs 13:3-13

1 Korinthiërs 13:3-13 AFR20

Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks. Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot 'n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan. Want ons ken gedeeltelik, en ons profeteer gedeeltelik, maar wanneer die volmaakte gekom het, sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan. Toe ek nog 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van 'n kind agtergelaat. Nou sien ons wel 'n geheimnisvolle beeld, soos in 'n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde.