Die Kosbare Geskenk Van VergifnisSample
Ons kan nie vergifnis verdien nie
“As julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.” (Matteus 5:20).
Ons situasie as mense is redelik desperaat, aangesien skuld by God tot die ewige dood lei. As ons hierdie oordeel wil vryspring, moet ons verhouding met God weer herstel word.
Ons kan nie vergifnis "koop" met geld of offers of enigiets anders nie. Die hele aarde behoort reeds aan God; Hy het niks van ons nodig nie.
Ons kan nie vir ons sondes vergoed deur besondere regverdige lewens te lei nie. Nie eers die godsdienstige elite in Jesus se tyd kon hierdie doel bereik nie, soos vandag se vers uit Matteus 5 duidelik maak. Volgens menslike standaarde was hulle onberispelik. Maar Jesus vergelyk hulle met “grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid” (Matteus 23:27).
Die profeet Jesaja sê dat selfs ons goeie dade nie rein is nie (Jesaja 64:6). Ons maak dinge net erger omdat ons voortdurend te kort skiet aan God se standaarde. Dit word bevestig deur die apostel Paulus in sy brief aan die Romeine, waar hy sê dat geen mens geregverdig sal word deur werke van die wet nie. Die wet wys net vir ons hoe sondig ons eintlik is.
Die ontnugterende gevolgtrekking is dat ons nie self met God kan regmaak nie. Ons het 'n oplossing "van buite" nodig. Kom ons lees môre meer daaroor!
About this Plan
Die Bybel is duidelik hieroor: ons as mense is sondig en verdien om gestraf te word. Maar dit verduidelik ook dat God ons vergewe wanneer ons ons sondes bely en wegdraai daarvan. God stel ons ook in staat om onsself en ander te vergewe. Dit is baie bevrydend om te vergewe, en help ons om verhoudings te herstel. Hierdie leesplan bespreek 'n paar belangrike Bybelverse oor die gee en ontvang van vergifnis.
More