Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 13: Wysheid God se groot geskenk
"Enige dwaas kan weet. Die punt is om te verstaan" — Albert Einstein.
Wysheid is ʼn konsep wat diep gewortel is in die menslike psige en deur die eeue heen ondersoek is deur filosowe, geestelike leiers, geleerdes en benodig word deur elke mens op aarde. Wysheid gaan verder as intelligensie en inligting maar gaan oor die regte insig om inligting doeltreffend toe te pas.
Dit is uiteindelik ʼn kombinasie van kennis, onderskeiding en ʼn diep begrip van die lewe en sy uitdagings. Salomo, die koning van Israel was bekend vir sy Goddelike wysheid; hy skryf die volgende oor wysheid: “Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks wat jy kan begeer wat teen wysheid kan opweeg nie” (Spreuke 8:11 NLV).
Elke mens op aarde het ʼn diep behoefte aan wysheid maar waar kry ons dit? By die bron van wysheid. In Babilon ten tye van ballingskap loof Daniël die Here met die woorde: “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne” (Daniël 2:20 AFR53).
By implikasie beteken die woorde dat die Here die outeur, die bron en die voleinder van wysheid is, wat reg deur die Bybel bevestig word. Die Bybel herinner ons herhaaldelik dat God die oorsprong van ware wysheid is en dat dit iets is wat Hy gee.
Salomo sê: "want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:6 AFR53).
Hierdie vers beklemtoon dat God die bron is van ware wysheid en in die tweede plek dat God bereid is om dit met die mens te deel. Dit beteken dat elke mens God se wysheid kan ontvang. Omdat God die bron van wysheid is, moet die mens wat wysheid begeer voor God neerbuig.
Die Bybel is duidelik hieroor: “Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die HERE is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig” (Spreuke 9:10 NLV).
In die tweede plek verkry ons wysheid omdat ons dit van God bid. Jakobus, een van die prominente leiers van die Jerusalem gemeente van die eerste kerk, kon dit nie duideliker gestel het nie: “Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie” (Jakobus 1:5 NLV).
Uit die skrif word dit duidelik dat God ons uitnooi om te vra en dat Hy meer as gewillig is om ons te help. Op ʼn praktiese vlak beteken dit om in elke besluit waar ons nie weet wat om te doen nie, dit na die Here toe te bring en vir hulp te vra (Spreuke 3:5-6).
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Jakobus 1:6-7 waar Jakobus verder oor wysheid praat en skryf jou gedagtes daaroor neer:
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More