YouVersion Logo
Search Icon

Ontdek Die Grootste GewerSample

Ontdek Die Grootste Gewer

DAY 18 OF 40

Dag 18: God gee genesing

"Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir julle wat eerbied en respek vir My het. Julle sal uitgaan en vrolik rondspring soos kalwers wat uit die kraal kom" — Maleagi (Maleagi 4:2 NLV).

Dawid, die groot held en koning van Israel in Ou Testamentiese-tye, roep uit in ʼn loflied: “Ek wil die HERE prys en nie al sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes en genees al jou siektes” (Psalm 103:2-3 NLV).

Hy is die God wat genesing aan sy volk gee. Die demonstrasie van God se begeerte en vermoë om te genees is deur Jesus gedemonstreer deurdat Hy regdeur sy bediening mense van verskeie siektetoestande gesond gemaak het.

Ons sien dit in die Nuwe Testament gereeld raak waar ʼn magdom mense Jesus gevolg het, siekes gebring en selfs mense wat deur demoniese pyniging gegaan het, wat Hy almal genees het. Regdeur die Markus evangelie sien ons ook hoe Jesus mense genees het. Hy het melaatses, verlamdes, inwendige bloeding, dié wat gebreke gehad het, duiwelbesetenes, ensovoorts, genees.

Hierdie genesingsaktiwiteite moes die mens van daardie tyd herinner het aan God se woorde in die Ou Testament: “want Ek is die HERE wat jou gesond maak” (Eksodus 15:26b AFR53).

Dit was duidelik — God gee genesing. Hy kan jou liggaam, jou verstand en selfs jou gebroke hart genees. Daar is belangrike vrae waarmee ons elke dag gekonfronteer word. Kan God my genees of wil God my genees?

Dit is een ding om te sê God kan my genees ʼn ander ding om te sê Hy wil en sal my genees. Onder watter omstandighede sal God genees?

Een van die mooi verhale wat God se genesing mooi illustreer is die verhaal van die blinde Bartimeus in Jerigo. Daar lê ʼn paar sleutels tot genesing in die verhaal van Bartimeus. Toe Bartimeus hoor dat Jesus verbygaan roep Hy uit: “Seun van Dawid, wees my barmhartig!” (Markus 10:46b AFR53).

Hy het natuurlik van Jesus gehoor en was oortuig dat hy hom kon help. Sy geloof was nie “ek probeer maar net glo” omdat hy ʼn kans geneem het op die hoop dat dit kan werk nie, maar ʼn vaste vertroue in geloof. Toe die mense hom probeer stilmaak het hy al hoe harder uitgeroep.

Elke keer as ek die verhaal lees wonder ek hoe ons geloof met Bartimeus se geloof ooreenstem. Sy geloof het uitgeroep! Roep ons geloof ook uit vir ʼn wonderwerk?

In die tweede plek het hy sy kleed afgegooi toe hy Jesus se stem hom hoor roep. Dit het ʼn besondere geestelike betekenis, naamlik, dat jy jou eie idees, selfgeregtigheid, sondige lewe, ensovoorts, moet afgooi en na Jesus toe draai.

Wat is dit wat ons vandag moet afgooi om by Jesus vir ons genesing te kom staan? Jesus het hom toe gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabboeni, dat ek mag sien” (Markus 10:51 AFR53). Wat is dit wat jy van God nodig het of begeer?

Maak dit nou by God bekend. Nadat die man sy geloof met betrekking tot God wat genesing gee, gewys het, het Jesus dit toe duidelik gemaak dat sy geloof hom gered het en hy kon dadelik sien.

Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Jeremia 30:17 en skryf neer wat dit vir jou beteken:

Day 17Day 19

About this Plan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More