Spreuke – eenjaarleesplanSample

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke. Spreuke 9 gee nou ‘n opsomming van wat tot dusver gesê is ,as ‘n basis vir alles wat hierna gaan volg.
Die slotsom van Spreuke 1 tot 8 is dat ‘n mens óf na Vrou Wysheid (Spreuke 9:1-6) óf na Vrou Dwaasheid (Spreuke 9:13-18) kan luister. Jy moet kies watter een se leiding om in jou lewe te volg.
Hierdie keuse vir een van dié twee stemme word aangevul met ‘n gedeelte oor die ligsinnige mens (Spreuke 9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel. Dit gee ook ‘n dwarsklap na dié wie se opvoeding ligsinnigheid tot gevolg het (Spreuke 9:7). Pa’s en ma’s luister!
Let op dat beide vrou Wysheid en vrou Dwaasheid hier fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat dit die rol van opvoeders is om kinders te inspireer sodat hulle die regte lewenshouding kan aankweek uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – Vrou Wysheid en Vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is.
- Vrou Wysheid nooi uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels.
- Vrou Dwaasheid nooi uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat in die dood eindig.
Vrou Wysheid word in verse 1-6 in ‘n uitgebreide gelykenis as 'n verstandige vrou voorgestel wat vir haar 'n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid. Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis (huise het minder pilare gehad, indien enigsins), wat die gesag en Goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon.
Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as 'n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer. Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe.
Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie soort lewe voorgestel word: “Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig” (Spreuke 9:6).
Scripture
About this Plan

Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ontdek. Dit is ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en opvoeding te gebruik. Geniet dit!
More