YouVersion Logo
Search Icon

Maria – ’N Vrou Van Die BybelSample

Maria – ’N Vrou Van Die Bybel

DAY 4 OF 7

Maria se verhaal: ’n Lewe saam met ’n besonderse seun

“Mamma!” het Hy uitgeroep, sy mollige armpies uitgestrek terwyl Hy na haar toe aangehardloop kom.

“Wat is dit, Jesus?” het sy geglimlag en die seuntjie in haar arms opgeraap voordat Hy in sy kleuter-lompheid kon struikel. Hy was die ene soentjies en laggies terwyl Hy sy krullebol teen haar bors aanvly, asof Hy Hom in haar wou ingrawe. Sy het tevrede gesug. Sy het soveel ma’s geken, maar nie een kon die verwondering van ’n kind raak beskryf nie – die vreugde, die voortdurende verrassing, die teerheid. Om nie eens te praat van die vrees en kommer wat ook deel was van die pakket nie.

Maar dit was nie nou die tyd vir sulke gedagtes nie. Die wyse manne uit die Ooste is kort gelede weg. Hoe vreemd het hulle voorgekom met hulle stories van ’n ster wat hulle na Betlehem gelei het op soek na ’n nuwe koning. Hulle het voor haar Seuntjie met sy donker ogies gekniel en vir Hom geskenke van goud, wierook en mirre gegee – asof vir ’n koning. Een oggend het hulle haastig opgepak en net gesê dat hulle in ’n droom gewaarsku is om huis toe te gaan sonder om vir koning Herodes te sê dat hulle soektog suksesvol was. Selfs die noem van daardie koning se naam het haar met angs gevul. Betlehem was maar nege kilometer suid van Jerusalem – gevaarlik naby aan die man wat sy eie kinders vermoor het omdat hy bang was hulle neem die troon by hom af. Hoe sou so ’n koning reageer op die nuus van ’n kind wat ’n koning is in Betlehem?

Twee nagte tevore het Josef haar wakker geskud en haar stilgemaak met die detail van ’n droom wat hy gehad het: “Maria, ’n engel het aan my verskyn. Ons moet vertrek voor die son opkom. Herodes beplan om na ons kind te kom soek en Hom dood te maak!”

Nou was hulle op pad terug Egipte toe, terug op die spore van Moses, Aäron en Mirjam wat soveel jaar gelede haar voorouers na vryheid gelei het. Maria het gewonder of hulle ooit weer hulle vaderland sou sien.

Day 3Day 5

About this Plan

Maria – ’N Vrou Van Die Bybel

’n Bybelstudie oor ’n vrou van die Bybel sal jou opnuut laat besef hoe lief God sy kinders het en sal jou verhouding met die Skepper verinnig. En daar is min vroue so inspirerend soos Jesus se eie ma. Ons kan soveel by haar leer. Hierdie 7-dag-Bybelstudie uit VROUE VAN DIE BYBEL deur Ann Spangler en Jean E. Syswerda is ideaal vir persoonlike studie of vir gebruik in ’n kleingroep.

More