Maria – ’N Vrou Van Die BybelSample
Maria se verhaal: Die Engel se besoek
’n Koel windjie het aan haar romp gepluk terwyl sy die waterkruik op haar kop balanseer, op pad om water te gaan haal by die put. ’n Vreemdeling het van voor af gekom. Selfs in die skemerlig het sy klere geskyn, asof dit helder gebleik is.
“Ek groet jou, geseënde vrou!” het hy geroep. “Die Here is met jou!”
Geen Nasarener sou dit ooit waag om ’n jong vrou so aan te spreek nie, daarvan was sy seker. Maar met elke tree het sy woorde nog meer vrymoedig geword en na haar toe aangerol soos water wat oor ’n krans stort: “Moenie bang wees nie, Maria … God het besluit om jou te seën … Jy sal swanger word en ’n seun hê … Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word … Die Heilige Gees sal oor jou kom ... Jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword!”
Golf na golf het oor haar gespoel terwyl sy na die engel se woorde luister – eers verwarring en vrees, toe verwondering en dankbaarheid, en uiteindelik vreugde en vrede. Haar hele wese is in lig gebaai. Toe hoor sy nog woorde, maar hierdie keer het dit oor haar eie lippe gekom: “Ek is die Here se dienares. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”
Die vrede het nie saam met die engel verdwyn nie. Die Allerhoogste het sy nederigste diensmeisie besoek en die belofte gegee wat elke Joodse vrou wou hoor: “Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”
Die maan het oor haar geglimlag toe sy die vol houers optel en oor die veld begin terugstap. Soos wat die water in die houers geskommel het in ritme met haar bewegings, het sy besef dat sy so vervuld en tevrede gevoel het. Sy het geweet daar sou môre-oggend vrae wees. Maar vir die oomblik was dit genoeg om op te kyk na die sterre en te weet dat God besig was om haar toekoms te vorm.
Scripture
About this Plan
’n Bybelstudie oor ’n vrou van die Bybel sal jou opnuut laat besef hoe lief God sy kinders het en sal jou verhouding met die Skepper verinnig. En daar is min vroue so inspirerend soos Jesus se eie ma. Ons kan soveel by haar leer. Hierdie 7-dag-Bybelstudie uit VROUE VAN DIE BYBEL deur Ann Spangler en Jean E. Syswerda is ideaal vir persoonlike studie of vir gebruik in ’n kleingroep.
More