YouVersion Logo
Search Icon

Maria – ’N Vrou Van Die BybelSample

Maria – ’N Vrou Van Die Bybel

DAY 2 OF 7

Maria se leefwêreld: Engele

Maria het van vrees ineengekrimp toe die engel Gabriël aan haar verskyn – ’n algemene reaksie. Dikwels in die Skrif is skrik mense e reaksie wanneer ’n engel aan hulle verskyn. Al word daar nie spesifiek gesê hoe engele lyk of hoe hulle verskyn nie, beskryf Matteus hulle op een plek so: “Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit” (28:3). Dit is sekerlik duidelik uit die reaksie van mense wat ’n engel gesien het dat hulle bonatuurlike wesens is en daarom angswekkend.

Die verskillende verwysings na engele in die Bybel beskryf hulle take as uiteenlopend. Engele in die hemel staan voor die troon van God en loof Hom (Openbaring 5:11-12). ’n Engel het vir Hagar en Ismael in die woestyn gehelp toe hulle in die moeilikheid was (Genesis 21:17). ’n Engel het die apostels uit die tronk vrygelaat (Handelinge 5:19). ’n Engel het Filippus na die woestynpad laat gaan waar hy die Egiptiese eunug ontmoet het en teenoor hom getuig het (Handelinge 8:26). ’n Engel het aan Paulus verskyn om hom te vertroos (Handelinge 27:23-24), aan Elia toe hy moeg en moedeloos in die woestyn was (1 Konings 19:3-9) en aan Daniël en sy vriende toe hulle in gevaar was (Daniël 3:28; 6:22). Soms gebruik God engele om sy vyande te straf (Genesis 19:1; 2 Konings 19:35).

Engele het ’n belangrike rol gespeel in die lewe van Jesus. Nadat hulle eers aan Sagaria, Maria en Josef verskyn het, het engele Jesus se geboorte aan die skaapwagters aangekondig (Lukas 2:9). Engele het Jesus kom versorg nadat Hy in die woestyn versoek is (Matteus 4:11) en toe Hy in die tuin was net voor sy kruisiging (Lukas 22:43). Daar was ’n groot aardbewing toe die engel aarde toe gekom het en die grafsteen weggerol het wat voor Jesus se graf was (Matteus 28:2). Toe Jesus opgevaar het na die hemel, het twee engele, “twee mans in wit klere” (Handelinge 1:10), vir die dissipels gesê Hy sal nét so terugkom soos hulle Hom die hemel sien weggaan het.

Day 1Day 3

About this Plan

Maria – ’N Vrou Van Die Bybel

’n Bybelstudie oor ’n vrou van die Bybel sal jou opnuut laat besef hoe lief God sy kinders het en sal jou verhouding met die Skepper verinnig. En daar is min vroue so inspirerend soos Jesus se eie ma. Ons kan soveel by haar leer. Hierdie 7-dag-Bybelstudie uit VROUE VAN DIE BYBEL deur Ann Spangler en Jean E. Syswerda is ideaal vir persoonlike studie of vir gebruik in ’n kleingroep.

More