YouVersion Logo
Search Icon

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™Sample

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

DAY 10 OF 21

“Beskerm deur gebed”

Op ons plaas het ons die gewoonte om die dag af te skop met Zoeloegesange, voorlesing uit God se heilige Skrif en gebed voordat ons begin werk. Eendag, nadat ons daarmee klaar was, het my seun ’n paar van die werkers gestuur om met ’n vragmotor boupale te gaan haal by ’n nabygeleë plantasie.

In die vragmotor was die bestuurder, twee tienermeisies en een helper. Toe hulle by ’n steil heuwel afry, het die bestuurder egter beheer oor die voertuig verloor. Die vragmotor het bergaf gerol en is so erg beskadig dat dit later afgeskryf moes word.

Een van ons jong veewagters het ’n halfuur nadat ons klaar gebid het met sy fiets aangery gekom en onbedaarlik gehuil. Hy het gesê: “Daar was ’n vreeslike ongeluk. Die vragmotor het gerol.” Hy was nie seker of enigiemand die ongeluk oorleef het nie.

Ek en my seun het in ’n ander voertuig gespring en dadelik na die toneel gery. Terwyl ons by die heuwel afry, het ek tot God begin bid: “Asseblief, Here … ” Die vragmotor was ’n totale wrak aan die voet van die berg.

Wonderbaarlik is niemand dood nie. Een van die meisies het haar arm gebreek, en die passasier wat langs die bestuurder gesit het, het ’n effense rugbesering opgedoen, waarvan hy volkome herstel het. Die bestuurder het ’n nekbesering opgedoen, maar die dokters glo hy sal piekfyn wees. Die ander jong meisie het nie eens ’n skrapie opgedoen nie.

Die jong veewagter wat die ongeluk aangemeld het, het my daaraan herinner dat ons vroeër daardie oggend tyd in gebed deurgebring het. Hy het vas geglo dat die Here Jesus Christus al vier die mense in die voertuig beskerm het. Ja, ons mag voorwaar nooit die krag van gebed onderskat nie.

GEBED: Here God, dankie vir die krag van gebed om lewens te verander, om ons geliefdes te beskerm, om te troos en te bemoedig. Dankie vir u magtige hand oor ons. Mag ek nooit die belangrikheid en krag van gebed miskyk nie. Amen.

Geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS DEUR ANGUS BUCHAN © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Scripture

Day 9Day 11

About this Plan

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

Hierdie 21 dae-plan is ’n samestelling van dagstukkies oor gebed. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel om ’n dieper verhouding met God te ontwikkel. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor gebed en ’n slotgebed. Hierdie oordenkings is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en IN DIE VREDE VAN SY TEENWOORDIGHEID deur Angus Buchan.

More