Vertrou God Te Midde Van SwaarkrySample
Lees: Romeine 8:18–39
SOAP: Romeine 8:24–25
Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.
Oordenking
Paulus se woorde in Romeine 8 herinner ons dat dit nie ‘n passiewe daad is om op God te vertrou nie. Inteendeel, dit is ‘n doelbewuste keuse, ‘n daaglikse toewyding om te onthou wie Hy is en wat Hy belowe het. Elke keer wanneer ons aan sy beloftes vashou, elke keer wanneer ons onthou hoe God bevryding belowe het, groei ons geloof.
Die lyding wat ons in hierdie wêreld verduur, is die gevolg van sonde. Ons persoonlike lyding mag dalk nie die gevolg van sonde wees nie, maar sonde is die rede vir gebrokenheid, pyn, slawerny en verval. Selfs die skepping ly onder die las van sonde en is ook in slawerny van verganklikheid. Ons wêreld roep letterlik uit en kreun, smagtend na vryheid en verlossing.
Ons wag op bevryding. Wanneer ons in Christus is, het ons die gawe van hoop vir wat nog gaan kom. Hy het ‘n glorieryke bevryding belowe, beide die fisieke en geestelike bevryding van ons liggame wat nog kom. Ons sien met gespanne verwagting uit na wat belowe is. Ons leef in die tyd van “nog nie nou nie”.
In die tyd van “nog nie nou nie” hou ons egter vas aan hoop – die hoop van volkome verlossing deur die werk van Jesus Christus. Te midde van slawerny hou ons aan hierdie hoop vas. Te midde van die verval, hou ons aan hierdie hoop vas. Soos ons liggame breek, ons denke verander, ons geliefdes afsterf, of ons regerings ineenstort, hou ons aan hierdie hoop vas. Want in hierdie hoop is ons gered. Wanneer ons hoop in die werk van Christus is, in sy opoffering, opstanding, en terugkeer, is ons gered.
Hierdie hoop stel ons in staat om aan te gaan. Sonder die hoop dat ons eendag die heerlikheid van Christus en ons volkome bevryding sal beleef, het ons geen rede om te kies om Hom te vertrou nie. Ons aktiewe keuse om daagliks aan sy beloftes vas te hou, is wat ons hoop laat toeneem.
Dit mag dalk nooit makliker raak nie, maar ons leer om te volhard. Volharding is ‘n praktyk, ‘n dissipline. ‘n Atleet kan nie ‘n maraton aflê sonder om eers ‘n kilometer, dan nog een, en nog een te hardloop nie. Sy moet tydens haar oefening ly ten einde stamina op te bou, anders sal sy nie die resies voltooi nie. Op dieselfde manier leer ons volharding aan deur te volhard. As ons kies om te glo dat die Een wat ons gered het ons ook sal verlos van die lyding, sal ons volharding opbou terwyl ons ywerig op sy wederkoms wag.
Scripture
About this Plan
Voel dit vir jou asof die wêreld oral om jou ineengestort het? Voel dit vir jou asof jy deur die een storm op die ander getref word? Het jy begin wonder waar God te midde van al jou hartseer is? Vriendin, jy is nie alleen in jou swaarkry nie.
More