Die Grootste GeskenkSample
Week 4: Die Gawe van Geloof
Die Doel van Geloof
Lees: Hebreërs 11
SOAP: Hebreërs 11:1, 6
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
Oordenking
Die woordeboek definieer geloof as "vertroue of hoop in 'n persoon of ding; 'n oortuiging wat nie op bewyse gebaseer is nie.” Die Bybel definieer geloof as “om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11: 1).
Die gawe van geloof wat God ons gegee het, verskil van die weergawe wat die wêreld verstaan, want hoewel ons hoop kan hê op wat ons nie gesien het nie, het ons tog bewyse! Die Woord van God is ons bewys dat God ons liefhet, 'n goeie plan vir ons het en 'n plek vir ons in sy huisgesin het. Hebreërs 11 is 'n goeie plek om te begin, aangesien die skrywer ons voorbeeld na voorbeeld gee van mans en vroue wat groot geloof in God en die uitkoms van hul geloof getoon het.
Deur geloof het Abel 'n groot offer aan God gebring, en deur geloof het God hom geprys as regverdig. Henog se geloof het God behaag, en gevolglik het Henog nie 'n natuurlike dood gehad nie. Deur geloof het Noag die ark gebou wat God ontwerp het, en deur geloof het God Noag se gesin verlos. Die geloof van Abraham en Sarah het die toets van die tyd deurstaan, en hoewel hulle nie al God se beloftes in hul leeftyd sien gebeur het nie, is hulle geloof vir baie geslagte beloon.
Wanneer ons ons geloof in mense of omstandighede plaas, sal die uitkoms gewoonlik ‘n teleurstelling wees. Wanneer ons geloof in God geplaas word, sal Hy ons nooit in die steek laat nie. Ons Skrifgedeelte vandag sê juis dat God diegene beloon wat Hom soek en in Hom glo. Slegs geloof in God lei tot voortdurende uitstorting van gawes, veel meer as waarvoor ons kan vra of onsself kan voorstel, en soms meer as wat ons in ons leeftyd sal beleef. Ons geloof in God sal 'n erfenis nalaat wat geslagte sal beïnvloed!
Gebed
Hemelse Vader, dit is ongelooflik dat U hierdie verhouding so mooi ontwerp het dat my geloof in U 'n seën kan word. Dankie vir die voorbeelde van mans en vroue in u Woord wat my aanmoedig om aan te hou glo en hoop op dit wat ek nog nie kan sien nie. Amen.
Scripture
About this Plan
Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.
More