YouVersion Logo
Search Icon

Wanneer Alles Blou IsSample

Wanneer Alles Blou Is

DAY 7 OF 7

Jy mag maar hartseer wees

God het die volle spektrum van menslike emosie geskep. Om hartseer te wees, is nie ’n sonde nie. Dis heeltemal normaal en gepas om hartseer te voel as ’n troeteldier sterf, ’n vriendin jou afjak of jou kind skielik in die hospitaal opgeneem moet word.

Dalk voel dit die afgelope tyd of hartseer se wurggreep jou lamlê. Hoe meer jy vir jouself sê om jou reg te ruk, hoe minder kry jy dit reg. Gaan sit vandag rustig iewers en dink daaraan dat die Here weet hoe jy voel en naby aan jou is. Jesus self was iemand “wat leed en pyn geken het” (Jesaja 53:3). Dit beteken Hy verstaan volkome. Hy is by jou!

DRINK DIE SONSKYN IN

Daar is ’n direkte skakel tussen sonskyn en ’n mens se bui. Mense wat die lang, donker winters in die Noordelike Halfrond moet verduur, ly dikwels aan ’n sindroom wat seisoenale-affektiewe stoornis genoem word. (In Engels is die afkorting hiervoor — SAD — selfs meer ironies!) Hierdie soort depressie word direk gekoppel aan korter dae en langer nagte, wat beteken dat mense minder aan direkte sonlig blootgestel word. Sonlig bevat ultravioletlig wat deur die vel geabsorbeer word om vitamien D te vervaardig. Vitamien D is noodsaaklik vir ’n gesonde immuunstelsel, sterk en gesonde bene én vir die vervaardiging van die “goedvoel-hormoon” serotonien. Sonder genoegsame sonblootstelling is daar ’n afname in die hormone wat jou gemoed reguleer en voel jy dalk net so somber soos ’n bewolkte wintersdag.


Hierdie oordenkings is saamgestel uit SOOS APPELS VAN GOUD deur Dr. Michael Mol en Dalene Reyburn © Christelike Uitgewersmaatskappy. 

Day 6

About this Plan

Wanneer Alles Blou Is

Depressie raak wêreldwyd ’n geskatte 300 miljoen mense. As jy een van hulle is, is daar heelwat wat jy kan doen om ’n verskil in jou gemoed te maak. En die heel belangrikste is om jou gevoelens voor God te gaan neerlê. Hierdie 7 oordenkings, saamgestel uit SOOS APPELS VAN GOUD deur Dr. Michael Mol en Dalene Reyburn, bied daaglikse pitkos en praktiese riglyne.

More