IntegriteitSample
Wat is integriteit?
Die woord “integriteit” kom oorspronklik van die Latynse woord integer wat heelheid, ongeskondenheid of volledigheid beteken. Wanneer die woord “integriteit” op mense van toepassing gemaak word, dui dit op innerlike sterkte, heelheid, stabiliteit, konsekwentheid, egtheid en eerlikheid.
Daar is woorde wat ons soms as sinonieme vir integriteit gebruik, soos eerbaarheid, eerlikheid, opregtheid, onomkoopbaarheid, onkreukbaarheid en beginselvastheid. Terwyl elkeen van hulle aan ’n belangrike aspek van integriteit raak, laat nie een daarvan volkome reg geskied aan wat integriteit beteken nie.
’n Mens sou integriteit só kon probeer omskryf: Integriteit is die kwaliteit om eerlik te wees en sterk morele beginsels te hê. (“Integrity implies moral incorruptibility.”)
Integriteit beteken om jou morele en etiese oortuigings te volg en om die regte ding in alle omstandighede te doen, selfs al sien niemand jou nie. Integriteit beteken om getrou aan jouself te wees en om niks te doen wat jou gewete sal kwes of wat jou sal onteer nie. Integriteit beteken onkreukbaarheid van karakter. Dit beteken eenvoudig dat jou karakter nie vou onder druk nie. Integriteit beteken om die waarheid te praat al is die waarheid vir jou ’n verleentheid. Integriteit beteken dat jy ’n morele kompas het waarvan jou noord altyd die ware noord is. Integriteit beteken dat jy jou woord sal hou ongeag die gevolge. Integriteit beteken dat jy is wie jy voorgee om te wees. Integriteit staan lynreg teenoor skynheiligheid. Integriteit gaan daaroor om die regte ding te doen selfs al ontvang jy geen erkenning daarvoor nie en al is dit ongemaklik en ongerieflik vir jou. Integriteit beteken dat iemand se lewe deur waarheid gekarakteriseer word. Integriteit is meer as om altyd die waarheid te praat. Dit is om te doen wat jy sê jy gaan doen. Integriteit beteken onomkoopbaarheid.
Ware integriteit beteken om nie ’n prys te hê nie. As mens omgekoop kan word, verlaag jy jou eie waarde. In die woorde van C.J. Langenhoven: “Die toets van ’n man is hoeveel daar nodig is om hom te laat lieg.”
Hierdie verskillende definisies belig die begrip “integriteit” van verskillende kante – amper soos die verskillende hoeke waarmee mens na ’n diamant kyk.
Scripture
About this Plan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More