IntegriteitSample
Integriteit in die Bybel – Ou Testament: Dawid
Ten spyte van Dawid se blatante sondes wat nie deur die Bybel verswyg word nie, was daar egter meer as een geleentheid waar sy integriteit tog duidelik geblyk het. Dit bewys dat integriteit nie noodwendig sondeloosheid en volmaaktheid impliseer nie.
Kom ons kyk net na een voorbeeld. Ná Dawid se owerspel met Batseba en die daaropvolgende moord op haar man, Urija, het die Here die profeet Natan na Dawid gestuur. Die profeet se woorde in 2 Samuel 12:9 was reguit: “Hoekom het jy dan die woord van die HERE geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak!” Dawid het die mag gehad om Natan te laat doodmaak of sy woorde te ignoreer, maar let op sy reaksie: “Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: ‘Ek het teen die HERE gesondig’” (v. 13). Hierna het Dawid die mees berouvolle gebed tot God gebid wat as Psalm 51 vir ons bewaar gebly het. Vir my bly dit een van die aangrypendste psalms. Lees dit, asseblief.
Indien jy dalk die Here gefaal het – of ook ’n medemens – kan jy steeds jou integriteit bewaar en bewys deur die waarheid te praat en deur jou skuld en oortreding in opregtheid en berou te erken, al is dit tot jou verleentheid en nadeel. In die meeste gevalle sal jy daardeur ’n mate van respek en welwillendheid herwin. En by God genade vind.
Scripture
About this Plan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More