IntegriteitSample
God, die maatstaf en bron van waarheid
Terwyl Satan die oerbron en oorsprong van alle onwaarheid, leuens en ’n gebrek aan integriteit is, is God die teenpool daarvan. Miskien sou dit meer korrek wees om Satan die teenpool van God te noem. In Hom is daar, of was daar, geen skadu van onwaarheid, valsheid of bedrog nie. Hy is die hoogste uitdrukking van waarheid, die definisie van waarheid en die Beskermheer van waarheid. Dit is nie net ’n eienskap van God nie, dit is sy wese. Soos God liefde is, is Hy ook waarheid. God kan op geen manier met leuens verbind word nie en jy sal Hom nooit in die geselskap vind van diegene wat hulle met bedrog en valsheid ophou nie. God assosieer nie met die leuen nie, Hy loop nie saam met valsheid en korrupsie nie, want God ís Waarheid!
In God vind ons volmaakte integriteit. Hy is die hoogste uitdrukking van integriteit. Hy is absoluut betroubaar en volkome. Integriteit word in Hom en deur Hom gedefinieer.
Sy Woord is die Waarheid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh. 17:17, Bybel in Afrikaans 1933/1953).
Jesus het van Homself gesê: “Ek is die waarheid” (Joh. 14:6). Jesus het nie net die waarheid gepraat, geleef en geleer nie, Hy ís die Waarheid! Hy word genoem: “Getrou en Waaragtig” (Op. 19:11, Bybel in Afrikaans 1933/1953). As Seun van die mens is Jesus die perfekte voorbeeld van integriteit.
Die Heilige Gees word genoem “die Gees van die waarheid” (Joh. 14:17). Daarom kon Jesus in Johannes 16:13 sê: “Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid.” Daarom kan daar met reg aanvaar word dat die teenwoordigheid van die Heilige Gees in iemand se lewe, integriteit in die hand werk.
Daar is talle Skrifte wat waarheid met God Drie-enig verbind. Alles aangaande God is waarheid! Integriteit begin en eindig by Hom! Geloof en vertroue in God beteken ten diepste om die integriteit van God onvoorwaardelik te aanvaar.
About this Plan
Niks neem langer om te bou as ’n goddelike reputasie nie – en niks word vinniger vernietig deur ’n enkele misstap nie. Dit is hoekom jou integriteit bo enigiets anders beskerm moet word. Isak Burger praat eerlik en reguit oor integriteit en wat dit werklik vir gelowiges beteken, in hierdie 10 oordenkings saamgestel uit sy boek INTEGRITEIT.
More