YouVersion Logo
Search Icon

Kyknet Lydenstyd Gids 2022Sample

Kyknet Lydenstyd Gids 2022

DAY 19 OF 39

“Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (Johannes 15:12-17)

Die woorde hierbo, deur Jesus gesê, herinner ons aan God se verlange na ‘n intieme vriendskap met elkeen van ons. Dís die ongelooflike, buitensporige, en genade-gevulde goeie nuus wat Jesus aarde toe gebring het. Baie mense praat vandag daarvan om ‘n "persoonlike verhouding" met die Here te hê. Daar is niks fout daarmee nie. Ons moet dit egter duidelik maak wátter verhouding God met ons wil hê. Soos ons die Nuwe Testament lees, sien ons dat God ‘n verhouding van nabye verbintenis wil hê, ‘n plek waar beide partye ten diepste behoort. Om dit in ‘n woord op te som: vriendskap.

Die lydenstyd bied ons ‘n wonderlike geleentheid om te ontwaak tot hierdie goeie nuus. Dit maak die wêreld se verskil in hoe ons bid en leef. Ons hoef nie meer nougeset formeel te wees wanneer ons met God praat nie. Ons kan nou ons harte openlik met hom deel, in die wete dat ons ‘n Goddelike Vriend het wat vir ons omgee en na ons luister. Ons kan elke dag ons uitdagings en krisisse tegemoet gaan in die wete dat ons nie alleen is nie. Om God se vriend te wees, maak ons vry om dapper en met selfvertroue te leef, selfs wanneer ons deur tye van lyding en duisternis gaan. Sal jy, tydens hierdie lydenstyd vir God die kans gee om jou te oortuig hoe graag Hy vriende met jou wil wees?

JESUS ... BESTE VRIEND DEUR DAVID FLEMMING

Jesus ... Beste Vriend,
mag u siel aan my lewe gee,
mag u vlees soos voedsel vir my wees, mag U my verharde hart warm maak.

Jesus ... Beste Vriend,
mag u trane my nou skoon was, mag u passie my sterk hou, mag U na my pleidooi luister.

Jesus ... Beste Vriend,
mag u wonde my seerkry genees, mag u blik op my gevestig wees, mag ek nie u liefde verraai nie.

Jesus ... Beste Vriend,
mag U my by die deur van die dood roep, mag U my styf vashou,
mag U my by God se heiliges plaas, mag ek vir altyd u lof besing. Amen.

Scripture

Day 18Day 20

About this Plan

Kyknet Lydenstyd Gids 2022

Welkom op die Lydenstydreis. Tydens hierdie ervaring word jy genooi na ‘n paar ontwakings. Die doel van die reis is om te ontwaak tot die lewe. Lewe is God en lewe is saam met God. Ons gaan fokus op die ontwaking van myself, verlange, die lewe, vriendskap en roeping.

More