YouVersion Logo
Search Icon

Hoop in die Teenwoordigheid van GodSample

Hoop in die Teenwoordigheid van God

DAY 5 OF 5

God se toekomsgedagtes

Hierdie teks dateer uit die laaste dae van Jerusalem, ses eeue voor Christus, voordat die Babiloniërs die koninkryk van Juda finaal oorweldig het en die volk feitlik totaal in ballingskap weggevoer is. Sedekia was in Jerusalem aan die koning speel, ’n hulpelose onderdaan van Nebukadnesar wat planne beraam het om hom te verset. Oral was verwarring en gerugte en sameswerings. ’n Aantal Jode was reeds weggevoer na Babel. Aan hulle groep skryf Jeremia ’n brief van groot vertroosting: “Die Here het julle nie vergeet nie.” Byna soos die Amerikaanse digter J.R. Lowell in die negentiende eeu geskryf het: “… behind the dim unknown, standeth God within the shadow, keeping watch above his own” (uit: The Present Crisis).

Dit was baie dapper woorde, juis vir ’n profeet wat dikwels sy brood met trane geëet het. Hy gee aan die ballinge ’n kykie in God se “gedagtes”: dat deur al die ontbering weg van hul vaderland die Here steeds oor hulle wag hou. Hulle het ’n “hoopvolle toekoms”. Asof om dit met die daad te bevestig doen Jeremia ’n transaksie wat ’n spekulant sou vermy: hy gaan koop grond in Anatot, familiegrond (Jer. 32:9), en sit die koopbrief in ’n erdekruik vir iemand, eendag – want Jeremia het geen kinders gehad nie. Hy doen dit in opdrag van die Here. Daar sou weer geboer en gewoon word. In die donker was die donker nie oral so donker nie. God bly in ’n krisis ’n God van hoop wat soms in die skaduwees “behind the dim unknown” staan en waghou.

Kersfees word soms gevier met oë wasig soos dou oor tye wat was, of planne wat misluk het, of liefde wat onbeantwoord teruggekom het. Jesus bewys dat God se liefde nooit onbeantwoord terugkom nie. Hy het altyd ’n antwoord. Daar is altyd ’n toekoms en al is dit soms in die skaduwees, is ons nooit onder sy wakende oë uit nie.

Hierdie oordenkings is saamgestel uit IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD deur Izak de Villiers © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Day 4

About this Plan

Hoop in die Teenwoordigheid van God

Die hartklop van hierdie oordenkings is om jou elke dag daaraan te herinner dat God oral en altyd tot in die fynste besonderhede betrokke is by elkeen van sy kinders. Dit sal jou bemoedig om nooit aan sy nabyheid en hoop te twyfel nie. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD deur Izak de Villiers.

More