YouVersion Logo
Search Icon

Hoop in die Teenwoordigheid van GodSample

Hoop in die Teenwoordigheid van God

DAY 3 OF 5

Dobbelstene val verniet 

Om te loot of te hoop op die wen van ’n lotery is hoogs bedenklik. Mense loot soms om ’n staking van stemme op te los en daar is seker iets voor te sê. Die ou dissipels het ná Jesus se hemelvaart geloot, maar God het nie juis hulle keuse gebruik nie. Hy bepaal wie kry en doen wat. Maar mense “loot” met hul lewe, dikwels deur skimme na te streef in die trant van: As daardie meisie Hollywood toe kon gaan en ’n ster word, kan ek ook. Wel, miskien, maar dis gladde paaie daardie.

Sommige mense dink daar is “maklike” oplossings vir ’n “moeilike” lewe, dat dit slegs ’n kwessie is van hoe die dobbelstene val. Want, reken hulle, die lewe is soos ’n groentebredie met min van alles: min keuses, te min “vleis”, te min sout, te smaakloos, te veel van ’n onaptytlike blops loperige, souserige, deurmekaargoed op jou bord. Hulle hoop “hul geluk draai” en die maaltyd verander in kaviaar en sjampanje. Sommige blameer God vir hul “lot”, soos die digter Adam Small verwoord: “Die Djere het gaskommel en die dice het vir ons verkeerd geval, dis ma’ al.” Dié verwyt is bekend, maar onsin.

Ons het twee groot kaarte wat ons met 100% vertroue kan speel: die kaarte van die geloof en die hoop, wat vir my gevoel naby verwant is. Gebruik hierdie kaarte in gebed en alle nederigheid en jy kry die grootste prys: jy kry Gód! Want Hy hoor wanneer Hy in waarheid aangeroep word. En dan het jy álles en kan jy in sy Naam die lewe soos groentebredie leer baasraak, ook al het jy nie veel erg aan die smaak nie. Om in God en met God te wees, om in sy besluit te lewe is immers vrede en vertroosting. Engele sal jou help soos vir Elia in die woestyn.

“God does not play dice with the universe,” het Einstein gesê. Hy laat Hom nie bespot met speletjies nie. Maar Hy bespot jou ook nie, en veral nie jou eerlike gebede, arbeid en ideale nie. Hy help daarmee.

Day 2Day 4

About this Plan

Hoop in die Teenwoordigheid van God

Die hartklop van hierdie oordenkings is om jou elke dag daaraan te herinner dat God oral en altyd tot in die fynste besonderhede betrokke is by elkeen van sy kinders. Dit sal jou bemoedig om nooit aan sy nabyheid en hoop te twyfel nie. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD deur Izak de Villiers.

More