YouVersion Logo
Search Icon

Hoop in die Teenwoordigheid van GodSample

Hoop in die Teenwoordigheid van God

DAY 2 OF 5

Hoop gaan bergop … of spring!

Om te hoop is grootliks om hoorbaar of innerlik te wens, maar dis ook meer: dis om te wens asof dit gebeur. Toe Dawid vir God ’n huis wou bou, was die tempel reeds in sy hart klaar staangemaak op die tempelberg. Toe Abraham met Isak bergop is, was hy bereid om te offer, maar ook ingestel op ’n moontlike, waarskynlike, werklike ingryp van God in ’n onmoontlike situasie. So was dit met elke Goddelike ingryping. So was dit met Jesus en die kruis wat oorwinning bring. So is dit vandag nog.

Hoop is nie drome droom nie, maar darem tog ook drome, gebede, verwagtinge. Hoop loop soms gevaar om wensdenkery te word, maar in die geloof tree die Gees as korrektief op om te verhoed dat ons die grense van hoop oorskry. Wie biddend hoop, kan altyd hierop reken, selfs wanneer ’n mens soos Abraham hoop wanneer daar geen hoop meer is nie. Sulke hoop kyk verby omstandighede; dit kyk na God. Eintlik is dit ’n geweldige waagstuk in die geloof, maar die tipe waagstuk wat ook ’n geloofsprong is: ’n sprong in die duisternis, maar in die veilige arms van God. En word jou hoop bewaarheid, juig jy ná die sprong in God se arms. Word jou hoop nié waar nie, word jy ná die sprong getroos in God se arms.

Elke nuwe dag bring nuwe hoop. Hoop is die vleuels van die waarheid en geloof is die rigting. En die Een op wie ons hoop, is God wat elke nuwe môre bring. Want soos elke nuwe oggend aanbreek, so vernuwe die hoop. En onthou, elke nuwe dag is uniek. Daar was in die ewigheid nog nie so ’n dag nie en wanneer alles eindig, sal daar nie weer so een wees nie. God vernuwe elke dag sy skepping. Hy vernuwe ons, Hy vernuwe die hoop. Hy vernuwe die hart. Ons kan maar bergop gaan.

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Hoop in die Teenwoordigheid van God

Die hartklop van hierdie oordenkings is om jou elke dag daaraan te herinner dat God oral en altyd tot in die fynste besonderhede betrokke is by elkeen van sy kinders. Dit sal jou bemoedig om nooit aan sy nabyheid en hoop te twyfel nie. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD deur Izak de Villiers.

More