YouVersion Logo
Search Icon

Hoop in die Teenwoordigheid van GodSample

Hoop in die Teenwoordigheid van God

DAY 4 OF 5

Vreugde en vrede

Die brief aan die Romeine is ’n sistematiese uiteensetting van die raamwerk van Paulus se geloof. Maar namate die brief sy einde nader, is dit of Paulus vroliker en sy gees ligter word. Sy lang groeteboodskappe begin eintlik al hier. Hy wys weer daarop dat God die God van hoop is en dat Hy deur geloof werk en “vervul”. Hy wens hulle vreugde en vrede toe, soos hy aan die begin van die brief gewens het. Nie net ken hy die reëls van fatsoenlikheid van sy tyd nie – hy is immers deurentyd net so oorvloedig in sy dank as wat hy ernstig is in sy vermanings – maar hy laat duidelik blyk dat daar naas al die fasette van die deurwinterde man van God ook ’n dankbare en waarderende mens in sy ingewikkelde maar toegewyde persoonlikheid skuil.

Hy wens die Romeine vreugde toe. Maar vreugde, soos William Barclay tereg opmerk, is nie net afhanklik van uiterlike dinge nie, van feesmale en belewenis van skone dae nie. Vreugde laat ons ook soms trane stort oor dinge wat innerlik aangevoel word. Dis ook nie net die vreugde van arbeid en vrug op die arbeid of van die lentedans nie. Dis nader aan wat Tennyson sê: “There is no joy but calm!” (uit: The Lotos-Eaters). Dit beteken dat wat ook al gebeur, ’n mens in staat is om dit te hanteer met innerlike kalmte. Soos ek ’n ma by ’n parkeerterrein sien doen het met ’n ongedurige kind. Sy het die kind sonder ruk en pluk met beslistheid kalmeer omdat daar ’n kalmte van binne uit haar eie gesig gestraal het. So is Christus: ons vreugde is die bewustheid van die innerlike Teenwoordigheid van die Heiland deur die kalmte van sy Gees.

En vrede: dit kom ook van binne. Dis nie ’n blote staking van vyandighede nie, maar ’n innerlike waardigheid en balans, ’n genadige en behaaglike gevoel van waters waar rus is, ’n stemming wat fluister van aanbidding. Dis die werk van die Heilige Gees en versterk die hoop. Dis Paulus se wens vir die geliefdes in Rome. Dis sy gebed vir ons.

Scripture

Day 3Day 5

About this Plan

Hoop in die Teenwoordigheid van God

Die hartklop van hierdie oordenkings is om jou elke dag daaraan te herinner dat God oral en altyd tot in die fynste besonderhede betrokke is by elkeen van sy kinders. Dit sal jou bemoedig om nooit aan sy nabyheid en hoop te twyfel nie. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD deur Izak de Villiers.

More