Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs Sample
Lees: Hebreërs 11:8–22
SOAP: Hebreërs 11:8
Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.
Oordenking
Abraham het God vertrou. Deur Abraham se geloof is hy as geregverdig voor God gereken. Sy geloof was nie net ongekend nie, maar het ‘n uitwerking gehad op sy nageslag. Abraham het God steeds geglo al het God hom gevra om vreemde, ongehoorde dinge te doen. Abraham het na ‘n onbekende land getrek, as vreemdeling gewoon, en amper op God se bevel sy seun geoffer. Abraham se getrouheid het geslagte lank ‘n kragtige uitwerking op sy familie gehad.
Sara het in navolging van haar man se voorbeeld groot geloof gehad. Selfs al het sy getwyfel, het sy geglo dat God op haar hoë ouderdom vir haar ‘n kind sou gee. Isak het God geglo en sy kinders geseën te midde van onsekerheid en terwyl hy nog as ‘n vreemdeling gewoon het in die land wat God aan hulle beloof het. Jakob en Josef se geloof was steeds vir hulle families tot seën terwyl hulle vasgehou het aan die hoop dat God eendag aan hulle sou gee wat Hy beloof het.
Hoewel Abraham, Sara, Isak, Jakob en Josef nooit die uiteindelike vervulling van God se belofte aan hulle gesien het nie, was God getrou en het Hy aan hulle 'n kykie gegee dat Hy aan die werk was. Hulle geloof was buitengewoon omdat hulle God steeds vertrou het, al het hulle getwyfel. Mag ons soos Abraham wees en aan God se beloftes vashou ongeag ons omstandighede en ons families en gemeenskappe nog geslagte lank die uitwerking daarvan beleef.
Gebed
Here God, ek begeer geloof soos Abraham s’n. Help my om aan u beloftes vas te hou ongeag hoe ek voel of wat U van my vra. Help my om aan U vas te hou, nie aan wat U vir my gegee het nie. U is getrou, en ek wil U volg waar U my ook al lei. Amen.
Scripture
About this Plan
Die boek Hebreërs vertoon die oppergesag van Christus op elke bladsy. Jesus is nie net verhewe bo enige iets waarin ons probeer om ons hoop te plaas nie, maar Hy is die Skepper en Een wat alles in stand hou. Hy het ons deur sy genade gered. Hy alleen is ons lofprysing waardig. Hy alleen is ons liefde waardig. Hy is ons alles.
More