Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesSample
Om te kry wat ons wil hê
Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. - SPREUKE 3:5-6
Ek weet gewoonlik wat ek wil hê, en ek hou daarvan om dit te kry. Ek is soos die meeste mense. Wanneer ons nie kry wat ons wil hê nie, kom negatiewe gevoelens na vore. (Onthou, daardie gevoelens begin met gedagtes.)
‘’Ek het deur die stad gery om die rok te kom koop, en julle het nie my grootte nie?’’
‘’Wat bedoel jy daar is geen HD-TV's oor nie? Julle het dit in die koerant geadverteer.”
Die meeste van ons is so – en wanneer ons nie kry wat ons wil hê nie, laat ons mense rondom ons ellendig voel. Dit is nie iets wat ons op skool leer nie - dit kan aangebore wees.
Terwyl ek bogenoemde aanhalings geskryf het, het ek gedink aan 'n toneel in die kruidenierswinkel. ‘n Jong ma was besig om haar trollie te stoot en het by die graankos gestop. Haar kind - jonger as twee jaar oud - het 'n hand uitgesteek. "Hê! Hê!"
‘’Nee,’’ het die ma gesê. ‘’Ons het genoeg by die huis.’’ Sy het ‘n ander houer in die trollie gesit.
‘’Wil hê! Wil hê!’’ het die kind gesê. Toe sy geen reaksie kry nie, het sy begin skop en skree. Tot die ma se krediet, het sy nie ingegee nie maar die trollie na die volgende gangetjie gestoot om haar kind se aandag af te lei.
Soos ek na die gedrag gekyk het, het ek gedink, dit is hoe ons almal die meeste van die tyd is. Ons besluit wat ons wil hê, en as ons dit nie kry nie, is ons kwaad.
"Ek en Jack het albei gekwalifiseer vir dieselfde bevordering. Ek was al langer by die onderneming, en my verkoopsyfers wass sterker, ” het Donna gesê. ‘’Ek het dit verdien, maar hy het die werk gekry.’’
‘’Ek het 'n persentasie van 98 gehad voor my eind-eksamen,’’ het Angie gesê. ‘’As ek nog ‘n 100% behaal het, sou dit my gemiddeld opgestoot het, en ek sou die topstudent in my klas wees. Maar ek het slegs 83% gekry en tot die vyfde plek in my klas geval. Ek het 100% verdien, maar my onderwyser hou nie van my nie.‘’
Kom ons kyk noukeuriger na hierdie probleem. Die persone hierbo, wat nie gekry het wat hulle wou gehad het nie, het een algemene stelling gemaak: ‘’Ek het dit verdien, maar dit nie gekry nie.’’
Ons Christene verwag te dikwels dat die lewe perfek sal wees en dat alles vir ons goed sal verloop. Ons verwag sukses, geluk, vreugde, vrede en alle ander goeie goed. Wanneer ons gedwarsboom word, is ons dikmond of kla ons.
Alhoewel God wil hê dat ons 'n goeie lewe moet hê, sal daar tye wees wanneer ons geduldig moet wees en dit verduur. Hierdie teleurstellings toets ons karakter en vlak van geestelike volwassenheid. Dit wys eintlik of ons regtig gereed is vir bevordering.
Waarom dink ons dat ons altyd eerste moet wees terwyl ander 'n mindere posisie moet inneem? Waarom dink ons is ons geregtig op die perfekte lewe? Miskien dink ons soms meer van onsself as wat ons behoort te doen. Nederige gedagtes stel ons in staat om terug te sit en te wag dat God ons bevorder. God se Woord sê dat ons die beloftes deur geloof en geduld beërf. Om God te glo is goed, maar kan ons aanhou om God te glo en Hom te vertrou as ons voel dat die lewe nie regverdig is nie?
Satan speel met ons gedagtes. Die meeste van die tyd vertel die bose een negatiewe dinge aan ons: ‘’Jy verdien dit nie; jy is nikswerd; jy is dom.’’ Af en toe probeer hy ‘n ander truuk: Hy vertel ons hoe hard ons werk of op hoeveel ons geregtig is. As ons luister en glo, kan ons begin voel dat ons bedrieg is of glo dat iemand voordeel uit ons getrek het.
As ons nie kry wat ons wil hê nie, val ons uitmekaar en sê: ‘’Ek het dit verdien!’’ Ons word nie net kwaad vir die baas, die onderwyser of enige iemand anders nie, maar ons word soms kwaad vir God, omdat Hy ons nie gegee het wat ons voel ons verdien het nie.
Die groot fout was om te sê dat ons dit verdien, want dan kruip selfbejammering in as ons nie kry wat ons wil hê nie. Ons kan daardie houding inneem, of ons kan besef dat ons 'n keuse het. Ek kan kies om die lewe te aanvaar soos dit is en die beste daaruit put, of ek kan kla omdat dit nie perfek is nie.
Ek dink aan die storie van Jona – nie die visstorie nie – maar wat agterna gebeur het. Hy het aangekondig dat God die stad Nineve oor veertig dae sou vernietig, maar die mense het berou gehad. Omdat God na hul smekinge geluister het, was Jona kwaad. ‘’Here, vat nou maar my lewe! Ek wil liewer dood wees as om te lewe.” (Jona 4:3)
Hartseer, is dit nie? Jona wou eerder reg wees as om 120 000 mense gered te sien. Ons situasies is gewoonlik nie so dramaties nie, maar so baie mense wil liewer vir hulself jammer voel of na die gefluister van Satan luister, as om God eenvoudig in elke situasie te vertrou.
Die geheim van die Christelike lewe is dat ons onsself ten volle aan God sal toewy. As ons ons wil aan God oorgee, maak dit wat gebeur ons nie kwaad nie. As God ons nie gee wat ons wil hê en vra nie, is ons geloof sterk genoeg om te sê: ‘’Nie my wil nie, maar U s'n.’’
God, help my. Ek het dikwels sterk begeertes, en as ek nie kry wat ek wil hê nie, raak ek ontsteld. Vergewe my. Herinner my daaraan dat Jesus nie aan die kruis wou sterf nie, maar dat Hy volhard het in u wil. Ek vra U, in die Naam van Jesus Christus, om my te help om in totale onderdanigheid te leef en tevrede te wees met wat U my gee. Amen.
Scripture
About this Plan
Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar met sy leuens, vernietigende denkpatrone te konfronteer, 'n oorwinning te vind in die transformasie van jou denke, krag te kry, aanmoediging en die belangrikste, oorwinning oor elke geveg in jou gedagtes.
More