YouVersion Logo
Search Icon

Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesSample

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

DAY 13 OF 14

Agterdogtige Gedagtes

Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie. Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie, hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie. Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier. Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. Maar profesieë sal tot niet gaan die spreek in tale sal ophou, en kennis sal verouder raak. - 1 KORINTIËRS 13:4-8  (NLV)  

Hierdie woorde oor liefde is vir baie van ons bekend, maar ek kan eerlik sê dat dit nie vir my maklik was om dit uit te leef nie. As kind was ek nie aan hierdie soort liefde blootgestel nie - in werklikheid is ek geleer om agterdogtig teenoor almal te wees. Daar is aan my gesê dat 'n mens nie ander mense se motiewe kan vertrou nie.

Soos ek ouer geword het, het ek mense teëgekom wie se optrede net bevestig het dat my vermoedens geregverdig was. Selfs as ‘n jong Christen het ek teleurstelling beleef vanweë die ooglopende motiewe van sommige mense in die kerk. Alhoewel dit wys is om bewus te wees van mense se motiewe, moet ons versigtig wees dat ons agterdogtige aard nie ons gevoelens oor almal negatief  beïnvloed nie.

Oormatige agterdogtigheid kan jou gedagtes vergiftig en jou vermoë belemmer om ander mense lief te hê en te aanvaar. Kyk na hierdie voorbeeld.

Gestel 'n vriend kom na afloop van die kerkdiens na jou en sê: "Weet jy wat Doris van jou dink?" Dan vertel hierdie vriend jou in die fynste besonderhede van die dinge wat Doris gesê het. Die eerste probleem is dat 'n ware vriend nie sulke inligting sou deel nie. En die tweede probleem is dat jy wat reeds agterdogtige gedagtes het, nou tweedehandse inligting glo.

Sodra jou gedagtes teen iemand vergiftig is, groei die agterdog. Dit is wanneer Satan 'n vesting in jou kop kry. Elke keer as Doris vir jou iets sê, is jy outomaties agterdogtig en dink jy, Wat bedoel sy regtig? Of as sy gaaf is, dink jy, ek wonder wat sy van my wil hê.

Dit is soos Satan werk. As hy jou agterdogtig kan maak oor ander, sal dit nie lank duur voordat jy niks sal vertrou wat hulle sê nie. En as jy al verskeie kere so seergemaak is, kan die duiwel jou denke vergiftig tot op die punt dat jy begin wonder wie anders dalk agter jou rug praat.

Kom ons gaan voort met hierdie voorbeeld. Veronderstel dat Doris op ‘n dag net 'n paar rye voor jou in die kerk sit, besig om haar hande te klap en die Here te prys. Dadelik dink jy: Sy is so 'n huigelaar. 

Dan lei die Heilige Gees jou gedagtes na jou eie toestand, en die feit dat jy hande geklap en die Here geprys het terwyl jy slegte gevoelens teenoor Doris gehad het. Het Jesus nie vir ons gesê dat ons met ander moet vrede maak voordat ons ons offers aan Hom oorhandig nie? (sien Matteus 5:24)

Veronderstel jy gaan na Doris, vol skuldgevoelens oor hierdie woorde van Jesus, en vra om verskoning vir die slegte gevoelens wat jy teenoor haar het ... en sy staar na jou in absolute skok. Dan besef jy jou fout. Jy het die inligting wat jou vriend met jou oor Doris gedeel het verkeerd vertolk, sodat die duiwel jou teen 'n wonderlike, goddelike vrou kon laat draai.

Dit is 'n goeie voorbeeld van hoe agterdog verhoudings kan vernietig en ons vreugde steel. Daarom is dit belangrik om die soort liefde waarvan in 'n 1 Korintiërs 13 gepraat word, na te jaag.

Dit het my 'n rukkie geneem om 'n leeftyd van agterdog te oorkom, maar ek het uiteindelik besef dat wanneer ons liefhet soos God liefhet, ons geen plek het vir agterdog teenoor ander nie.

Here, ek dank U dat U my wys hoe om my agterdogtige gedagtes te oorkom deur my te leer hoe om ander lief te hê met u soort liefde. Dankie Jesus dat U geduldig is met my en ‘n wonderlike voorbeeld is. Amen.

Day 12Day 14

About this Plan

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar met sy leuens, vernietigende denkpatrone te konfronteer, 'n oorwinning te vind in die transformasie van jou denke, krag te kry, aanmoediging en die belangrikste, oorwinning oor elke geveg in jou gedagtes.

More