Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesSample
Staan Ongeloof Teen
Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding. - 1 PETRUS 5:8-9
Somtyds kry ons onwetend die verkeerde indruk van geestelike oorlogvoering. Ons weet dat die duiwel ons vyand is en dat ons daagliks moet veg om te wen, maar dit is nie al nie. As die Christelike lewe niks anders as ‘n stryd was nie, sou dit ontmoedigend wees om te dink dat jy elke uur van elke dag moet veg.
Ek sou voel dat ek nooit kon ontspan nie, want sodra ek dit gedoen het, sal Satan weer terugsluip. Dit is nie die prentjie wat ek wil voorstel nie. Die Christelike lewe is 'n lewe van vreugde en vrede. God gee ons 'n groot gevoel van vervulling, en ons is rustig omdat ons weet dat ons Hom eer deur die manier waarop ons leef.
Petrus het aan Christene geskryf oor hulle vyand - hulle gewaarsku en aangespoor om waaksaam te wees, en dit is waarop die klem dikwels val.
Net voordat hy hierdie woorde geskryf het, het hy egter gesê: ‘’Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’’ (v. 7) Hierdie vers sê dat ons onsself moet herinner aan God se liefde vir ons - God gee om. Omdat God omgee, kan ons op Hom vertrou om vir ons te sorg.
Ons het dit nodig as deel van ons grondslag. Dis nie dat ons nie geloof het nie; dis omdat Satan probeer om ons geloof te vernietig met leuens soos: ‘’As God regtig omgee vir jou, sal Hy jou dan deur hierdie beproewing laat gaan?’’ ‘’As God jou waarlik lief het, sal Hy jou so behandel?’’
Daardie vrae wat die duiwel na jou kant toe gooi, is vol leuens. As hy jou kan laat dink dat jy nie geliefd is nie, of dat God nie jou beste belange op die hart dra nie, kan hy klein saadjies van ongeloof plant. God wil hê dat jy sterk moet staan soos Abraham en ander gelowiges in die Bybel.
Een van die dinge wat ek met die bediening van duisende mense geleer het, is dat die vreeslike en negatiewe probleme wat ons lewens tref, nie veroorsaak dat ons van God af wegdraai nie. Nee, dit is ons reaksie op daardie situasies wat die verskil maak. Dink weer aan Abraham. Toe God belowe om vir hom 'n seun te gee, was hy 'n ou man. Hy kon gesê het: ‘’Hoe kan dit wees? Ek is oud en lankal verby die stadium om ‘n pa te word.’’ In plaas daarvan het hy gesê: ‘’Dit is wonderlik! Ek glo."
Wanneer daar stryd, beproewinge en swaarkry op jou pad kom - en dit kom altyd - het jy 'n keuse. Jy kan ag gee op die woorde van Petrus en jou sorge en bekommernisse aan God oorgee. Dit maak nie saak hoe donker die nag is of hoe sleg die situasie is nie, jy moet jouself daaraan herinner dat God nie net in daardie situasie by jou teenwoordig is nie, maar dat Hy jou ook lief het en vir jou sal sorg.
Jou taak is om gedurende die moeilike tye waaksaam te wees. Jy kan jou verbly oor God se liefde en seëninge wanneer alles goed gaan - en dit is wat God wil hê jy moet doen. Maar in die donker oomblikke moet jy jouself daaraan herinner dat die duiwel van jou wil steel en jou wil verslaan.
Nog 'n ding. Somstyds sal jy wonder waarom jy soveel beproewinge en probleme ondervind. Is dit moontlik dat die duiwel jou dalk uitgesonder het as gevolg van God se wonderlike plan vir jou lewe? Hoe meer getrou jy is, hoe meer moet jy hom en sy leuens van ongeloof teenstaan.
Liewe hemelse Vader, die vyand probeer gereeld om my met ongeloof te vul, sodat ek umagtige liefde vir my moet ontken. Maar soos Abraham, staan ek vas op u beloftes. Dankie vir die vertroosting wat ek in u versekering vind, dat U altyd by my is. Amen.
Scripture
About this Plan
Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar met sy leuens, vernietigende denkpatrone te konfronteer, 'n oorwinning te vind in die transformasie van jou denke, krag te kry, aanmoediging en die belangrikste, oorwinning oor elke geveg in jou gedagtes.
More